MELKHOUTFONTEIN KRIEKET NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 8 Desember vir die tweede agtereenvolgende week hul rieme teen Riversdal styfgeloop toe laasgenoemde hulle met een paaltjie in hul SWDK promosie tuiswedstryd geklop het.
Riversdal het die loot gewen en die tuisspan ingestuur om eerste te kolf. Melkies het veel beter as verlede week gevaar toe hulle vir 'n skamele 94 lopies almal uitgehaal is. Riversdal beklink die wedstryd met 62 lopies. Dié keer het hulle 151 almal uit in 48.1 beurte aangeteken.
Vir die tuisspan het die veteraan Jonathan Michiel, die beste met die kolf gevaar. Hy het net-net sy 50-tal misgeloop toe hy been voor paaltjie betrap is met sy telling op 49 (6x4). Net drie ander kolwers kon dubbelsyfers behaal, met onderskeidelik Nicolaas Pietersen met 24 (2x4), Monré Saayman met 19 (1x4 & 1x6), asook Saul Pietersen wat 11 (2x4) aangeteken het.
Vir Riversdal het Marcello Wessels weer met die bal uitgeblink en 2/18 na 7 beurte platgetrek. Met dié vertoning het hy gewys dat sy 6/20 met 1 leeg na 7.2 beurte verlede week nie net 'n gelukskoot was nie. Hy is goed deur Jason van Rensburg met 2/19 na 7.1 beurte, Granwin Scholtz met 2/21 met 1 leeg na 8 beurte, Marvin Kortjé met 2/27 na 10 beurte en Paul Cupido met 1/29 na 8 beurte bygestaan.
Die besoekers moes 152 in hul toegelate 50 boulbeurte aanteken, maar hulle het dit na net 24.2 beurte aangeteken om 'n bonuspunt te verseker. Hulle het egter nege paaltjies in die proses verloor.
Mervyn Prins met 31 (5x4 & 1x6), Kortjé met 30 (2x4 & 2x6), asook Byron Esau met 29 (5x4) het die beste met die kolf gevaar, terwyl Scholtz met 16 (2x4) en Phillip Jantjies met 10 (1x4) moedig probeer het.
Vir Melkhoutfontein het Reagan Deutchen met 3/32 met 1 leeg na 4.2 beurte die beste met die bal gevaar, terwyl Bevan Gelant met 2/21 met 1 leeg na 8 beurte, Nicolas Pietersen met 2/43 na 6 beurte en Kevin Malgas met 1/12 na 2 beurte die ander paaltjies ingeryg het.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'