Gallery
RIVERSDAL NUUS - Vanjaar was die vierde Burgemeester se ses-'n-kant kriekettoernooi wat vanaf 17 tot 28 Oktober plaasgevind het.
Hierdie toernooi het ses jaar gelede ontstaan toe Ampie Moses en Calvin Abrahams met dié voorstel na Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles gekom het.
"Ek het dadelik ingestem. Ons moet 'n verskil maak in mense se lewens en hulle hoop gee, want as daar nie meer hoop is nie, het jy klaar die stryd verloor," het Riddles beklemtoon.
"Alle gelde wat ingesamel word, word aan Kansa oorhandig sodat hulle kan voortgaan om hoop en ondersteuning in hierdie fisiese en emosionele stryd te bied sodat niemand alleen daardeur hoef te gaan nie," het hy tydens die tjekoorhandiging gesê.
Brenda Scholtz, voormalige voorsitter van Kansa, het Hessequa-munisipaliteit, die organiseerders en spanne wat ingeskryf het bedank vir hul harde werk en entoesiasme, asook Riversdal SuperSpar en JC Slagtery vir hul getroue borgskappe. "Julle ploeg regtig groot terug in die gemeenskap," het sy met dankbaarheid gesê.
FOTOGALERY: Burgemeester se ses-’n-kant kriekettoernooi
Die toernooi is geïnisieer met die doel om bewusmaking vir kanker te skep, maar ook om die gemeenskap te dien en ontspanning te bied deur groter sportdeelname, en goeie sportmangees te kweek en sodoende vriendskappe te smee en te bou.
'n Loting het op 10 Oktober in die Thusong-sentrum plaasgevind waar die eerste ronde bepaal sou word. Die toernooi is in vier groepe opgedeel waar spelers dan eers in die groepfase hul wedstryde voltooi en net die twee spanne bo-aan die punteleer in elke groep vir die kwarteindronde sal kwalifiseer.
Agt spanne het na die kwarteindronde deurgedring omdat hulle die beste twee spanne in hul groepe was.
Agter, van links: Hendrik Saayman (raadslid), Raymond Heunis (bestuurder: gemeenskapsontwikkeling), rdl. Ben Smith en rdl. Gerald Boezak (ook portefeuljevoorsitter: gemeenskapsdienste), Leighton Lawak (koördineerder: sport- en jeugontwikkeling), Brenda Scholtz (Kansa), Grant Riddles (uitvoerende burgemeester), Mervin Prins en Calvin Abrahams (organiseerders).
Die spanne
- B4L
- Unknown Heavies
- Asian Tigers
- P-Squad
- Legend Killers
- Wu Tan Clan
- RCB Pandas
- Favourites
Na goeie en opwindende wedstryde, was slegs vier spanne oor. Legend Killers het teen Unknown Heavies te staan gekom in die derde en vierde uitspeelwedstryd.
P-Squad het teen Wu Tan Clan in die eindstryd gespeel. P-Squad het 74 lopies aangeteken, waarna Wu Tan Clan gemaklik afgeslaan het om as kampioene gekroon te word.
Die toernooi is suksesvol afgehandel en baie jong, talentvolle krieketspelers het na vore gekom, wat goeie ontwikkeling vir die senior krieketklubs in die gebied is.
Dit kan gebruik word as 'n platvorm waar nuwe en opwindende spelers identifiseer word om hul buiging vir die senior ligaspan te maak.
Wys jou ondersteuning aan Kansa met die Kansa Relay for Life wat op 19 November by Riverville-stadion plaasvind. Kontak Chanel Louw by 079 909 1397 vir meer inligting.
P-Squad en Wu Tan Clan voor die eindstryd.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'