Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige Unions Stars klubkrieketspeler en Protea-bouler, Ottneil Baartman, het groot opslae gemaak tydens die 2025 Betway SA20 spelerveiling gisteraand, 9 September, toe hy vir ’n indrukwekkende R5,1 miljoen deur die Paarl Royals gekoop is.
Baartman het verlede seisoen vir die Sunrisers Eastern Cape gespeel, waar hy uitgestaan het as die voorste bouler met 30 paaltjies; die meeste in die geskiedenis van die SA20-reeks sedert die toernooi sy debuut op die Suid-Afrikaanse krieketkalender gemaak het.
Hy is veral bekend vir sy dodelike streepballe aan die einde van spanne se kolfbeurt wat dit moeilik maak om lopies van sy boulwerk aan te teken.
Sy uitmuntende vertonings het hom die titel van SA20 Bouler van die Seisoen besorg, saam met die vernietigende kolwer Heinrich Klaasen.
Daarby is hy verlede maand ook aangewys as Krieket Suid-Afrika se Internasionale Nuweling van die Jaar, wat sy status as een van Suid-Afrika se mees belowende krieketsterre bevestig.
Lees meer in volgende week se uitgawe van Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’