HEIDELBERG NUUS - Die dorp se spog langafstandatleet, Jacob Xaluva (46), alombekend as Pontie, het op Donderdag 8 Februarie sy lang stryd teen tering verloor.
Pontie het bekendheid vir sy deelname aan die Comrades en Twee Oseane marathonne, asook Voet van Afrika en die plaaslike Vlakte marathon verwerf.
Hy het SWD ook dikwels tydens kompetisies verteenwoordig.
Hy was baie gewild onder sy mede-atlete en het graag sy kennis met jong opkomende atlete gedeel.
Sy saamleefmaat, Madelein Fransies vertel dat hy baie erg was op sy medaljes en sertifikate, maar dat sy twee Comrades en een Voet van Afrika medaljes sy trots was.
Buiten Fransies laat hy sy twee dogters, Portia (7) en Davidene (4), asook vyf broers en vier susters agter.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 17 Februarie om 09:00 vanaf die huis in Mervyn Josephstraat 11 en daarna om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk-Oos plaas.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'