SLANGRIVIER NUUS - Inga Kleynhans, 'n gr. 8-leerder van Slangrivier Primêr, se drome en aspirasies om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig en straks as 'n wêreld- of Olimpiese kampioen gekroon te word, is glad nie so vergesog nie.
Hoewel sy nog in die o.15-ouderdomsgroep val, ding sy reeds teen haar ouer teenstanders in die o.16-afdeling mee en het sy onlangs in Oudtshoorn 'n tyd van 12.2 sekondes in die 100 meter opgestel.
Sy verteenwoordig nou al vir haar derde agtereenvolgende jaar die SWD-atletiekspan in die 100 meter en 200 meter.
Met haar spogvertoning in Oudtshoorn het sy vir die SA kampioenskap gekwalifiseer, wat van 21 tot 23 April in Pretoria aangebied word.
Wat haar prestasies as naelloper merkwaardiger maak is dat sy asmaties sedert geboorte is. Tog skop skop sy met groot gemak stof in die oë van haar teenstanders.
As gekyk word na haar vordering en haar tye oor die afgelope drie jaar, is dit glad nie buite haar bereik om die SA rekord van 11.03 sekonde, wat in 2018 deur Carina Horn opgestel is, te verpletter nie.
Daar is egter vele uitdagings wat die belowende atleet in die gesig staar, waarvan 'n tekort aan finansies seker die grootste uitdaging is. Enigeen wat bereid is om 'n geldelike bydrae te maak om Inga te help om haar atletiekdrome te verwesenlik, kan gerus haar haar pa, Ignatius Kleynhans, by 061 659 0096 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’