TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Na vele pogings van die Eden-straat en -baanmylreeks se reëlingskomitee om die gewilde vakansiereeks te red, het die Covid-19-pandemie ook hier die laaste sê gehad.
Die gewilde straatmylreeks is die afgelope twee jaar verder uitgebrei om ook 'n baanmylbeen in Oudtshoorn by te voeg. Vanjaar sou dit verder uitgebrei word om ook 'n klompie kort baanwedlope in te sluit asook een of twee velditems.
ASA en ASWD het toestemming vir die baanbyeenkoms gegee, maar ongelukkig het die Klein-Karoo-straatmyle (Oudtshoorn) asook die ATKV-straatmyle (Hartenbos) in die slag gebly.
Volgens Dave van der Walt, een van die organiseerders, sou die beoogde reeks aangebied word om dit meer koste-effektief vir die atlete te maak.
Daar is egter besluit om eerder die reeks te kanselleer en 'n nog-groter reeks vir 2021 te organiseer.
Die KKAF, organiseerder van die reeks, het hulle simpatie uitgespreek teenoor die atlete vir die ongerief. Daar is ook met die primêre borge gekonfedereer, en hulle was dit eens dat die organiseerders op die einde van die dag die beste besluit in belang van die sport geneem het.
Hans van der Veen, voorsitter van KKAF het egter beloof dat die 2021 reeks net groter en beter gaan wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'