ATLETIEKNUUS - Die plaaslike meestersatleet, Johann Coetzer (63), het tydens verlede naweek se SWD-meestersatletiekkampioenskappe by De Jager-sportkompleks 'n 25 jaar lange rekord verpletter toe hy in die driesprong-veldtitem 'n afstand van 9,03 m in die mansafdeling (60 tot 64) behaal het.
Die vorige SWD-rekord in dié afstand was 8,08 m - 'n verbetering van bykans 'n volle meter.
Coetzer het ook 'n goue medalje in die verspringitem losgespring.
Nog 'n meestersatleet van Oudtshoorn, Lampies Lamprecht, het koning in die 3 000 m vir mans bo 70 jaar gekraai.
Coetzer het aan Oudtshoorn Courant vertel dat hy in 2018 laas kompeterend die driesprong en in 2019 laas die verspring gedoen het.
"Dit was aanvanklik vreemd, maar ek het met die eerste sprong goed gedoen met 'n afstand van 8,72 m; reeds toe al 'n nuwe rekord. Vandaar af het ek myself gedruk om te kyk hoe ver ek dié rekord kon rek en met my tweede laaste sprong, kon ek die magiese 9 m-merk oorgesteek."
Voorbereiding
Coetzer vertel dat hy die afgelope drie jaar sy fiksheidsvlakke behou het deur Maandae tot Donderdae te oefen wat insluit bandsleep, trappe op en af hardloop en gewone fiksheidsoefeninge terwyl hy Saterdae-oggende gewoonlik aan die plaaslike parkrun deelneem.
"Om my gesonde leefstyl vir jare te handhaaf, drink en rook ek glad nie. Dan is ek ook gek na groen- en vrugteslaaie en hoender. Net af en toe sal ek cappuccino drink, maar oor die algemeen drink ek meestal Rooibostee en my gebruiklike protein-shake. Dan vermy ek gluten-produkte en ek eet ook glad nie brood nie. Tans weeg ek 77 kg en my hoogte is 1,84m - so ja, my lyf voel nog goed vir nog so 15 jaar se deelname op die baan," sê Coetzer.
Teenspoed
Coetzer sê dat omdat hy sy lewe lank aan atletiek en fiksheid gewei het, was dit vir hom 'n groot terugslag toe velkanker verlede jaar by hom gediagnoseer is.
"Dit het my regtig 'n emosionele knou gegee want 'n mens dink mos as jy die woord kanker hoor is dit tickets vir jou. Veral vir iemand soos ek wat atletiek-mal is het ek gedog dis die einde van my loopbaan. Die dokters het gelukkig die kanker op twee geleenthede uitgesny en al wat nou oor is van dié ervaring, is 'n letsel wat net nou en dan jeuk,' vertel Coetzer.
Vooruitsigte
Volgens Coetzer berei hy tans reeds hard voor vir die Afrika-meesters-atletiekbyeenkoms wat in 2023 in Groenpunt (Kaapstad) gaan plaasvind. Hier sal hy Suid-Afrika verteenwoordig namens Oudtshoorn.
Vir hierdie byeenkoms sal hy egter sy hand diep in sy sak moet druk met die kostes wat bykans R10 000 beloop. Voornemende borge kan Coetzer by 073 832 3636 kontak.
Coetzer in aksie in die driesprong-velditem waar hy die 25 jaar oue rekord met bykans 'n meter verbeter het.
Lampies Lamprecht, meestersatleet van Oudtshoorn, het koning in die 3 000 m vir mans bo 70 jaar gekraai.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'