STILBAAI NUUS - Die ouers en o.13-toerlede van Laerskool Bertie Barnard in Stilbaai woeker hard om geld in te samel vir hul toer na die Kobus Wiese rugby- en netbaltoernooi wat van 27 - 31 Maart plaasvind.
So 'n toer en toernooi hou heelwat finansiële implikasies in, en die ouers probeer die las so lig moontlik op hul eie sakke maak.
Vrydagaand, 13 Maart, het hulle 'n neondraf op die sportveld aangebied waar al die deelnemers kleurvol in neondrag geklee was.
Deelnemers kon kies tussen 'n 2,5 km- en 5 km-roete, om die rugbyveld. Langs die roete was ses strategies geplaasde punte waar deelnemers moes stop om 'n fisiese aktiwiteit te voltooi, soos byvoorbeeld opstote.
By elke punt was daar ook van die o.13 rugby- en netbalspelers wat die aktiwiteite namens ouer deelnemers kon doen, indien hulle dit verkies het.
Dit was 'n heerlike aand vol pret en samesyn. Medaljes vir die eerste vyf deelnemers was uiteindelik net 'n bysaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’