HEIDELBERG NUUS - Deelnemers aan die onlangse jaarlikse sportdag tussen De Waalville Primêr en Bonnievale Primêr in Heidelberg kon hul dors en honger met heerlike nartjies les.
Die vrugte is deur Indigo Fruit Farming beskikbaar gestel danksy die bemiddeling van Julian Buis van die JG Buis Foundation.
Indigo Fruit Farming se bedryfsvoetspoor strek oor drie provinsies, waar onder meer topgehalte sitrus, mango's, avokado's en makadamianeute geproduseer word. Die maatskappy het meer as vier miljoen bome wat op meer as 50 plase aangeplant is.
Volgens Indigo Fruit Farming is die maatskappy daartoe verbind om 'n blywende bydrae tot omgewingsvolhoubaarheid te lewer, asook tot die volhoubaarheid van mense se lewensbestaan in die gemeenskappe waarin hulle werksaam is.
Die skenking van die nartjies aan die jong sportdeelnemers is 'n voorbeeld van hoe samewerking tussen plaaslike organisasies en die landbousektor 'n positiewe bydrae tot die gemeenskap kan lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’