STILBAAI NUUS - Die Hartliefklas van Laerskool Bertie Barnard het vanjaar gasheer gespeel vir vier ander skole in die jaarlikse Bronklasspele op Donderdag 6 November.
Laerskool Bertie Barnard van Stilbaai, Laerskool Volschenk van Riversdal, Laerskool Ladismith, Hoërskool Albertinia en De Waalville Primêr van Heidelberg het mekaar die stryd aangesê.
In sy verwelkoming het Nicky Deetlefs, skoolhoof van Bertie Barnard, gesê dat sport mense wêreldwyd bymekaarbring en dat daar beslis vriendskapsbande tussen die deelnemers gebou gaan word.
Christelle Taljaard en Elsa Cronjé, onderwyseresse by die Hartliefklas, met Nadine Muller se hulp het die spesiale dag moontlik gemaak met hulle harde werk..
Verona Pieterse, Niah Bahnsen en Biandri Collenet , onderwyseresse by Laerskool Bertie Barnard, het 'n pragtige baan op die sportterrein by die skool uitgelê en die deelnemers is beslis motories getoets, terwyl hulle pret gehad het.
Elke deelnemer het 'n goue medalje verwerf en die Geesbeker het soos verlede jaar weer aan aan Laerskool Ladismith gegaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’