STILBAAI NUUS - Aspirantskrywers van die Paideia Inclusive Education Centre in Stilbaai het hul kreatiewe talent ten toon gestel deur uitstekend te presteer tydens die Stilbaai Skryfkring se jaarlikse Ekspo-skryfkompetisie. Die prysoorhandiging het Vrydag 31 Julie by die Stilbaai-biblioteek plaasgevind.
Vir die skoolhoof van Paideia, Alichea Botha, is dit belangrik dat leerders aan uiteenlopende ervarings blootgestel word. Sy was self by die geleentheid teenwoordig om die prestasies van die sentrum se jong skrywers saam met hulle te vier.
Nie net die leerders nie, maar ook Ruth van Wyk, 'n opvoeder by die sentrum, het lof ingeoes. Haar kortverhaal, Die koningin het hoogtevrees, asook haar humoristiese limeriek, het haar 'n boekpak van die Stilbaai Skryfkring besorg. Die pryspakket het onder meer 'n boek deur Marita van der Vyver en JM Coetzee se Nobelprysbekroonde The Master of Petersburg ingesluit.
Van Wyk is boonop beloon met 'n geskenkbewys vir 'n sessie by die lewenstyl afrigter, Hélene Wehmeyer.
Die Paideia-leerders wat elk 'n geskenkpak vir hul weninskrywings ontvang het, is Hannes van Huyssteen, Kiara-Lee Kuhrau, Valentino Futeran, Malachi Landman, Cayleb van Zyl, Cuinn van den Berg en Tegan Brits.
Volgens Tienie Holtzhauzen van die Stilbaai Skryfkring was die standaard van vanjaar se inskrywings besonder hoog. Sy het die jong skrywers en ander deelnemers aangemoedig om aan te hou skryf en hul kreatiwiteit verder te ontwikkel.
Holtzhauzen het ook haar waardering uitgespreek teenoor die talle borge wat die prysoorhandiging moontlik gemaak het en bedank vir hul ruim ondersteuning en volgehoue betrokkenheid by die Stilbaai Skryfkring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’