STILBAAI NUUS - Die gr. 7-leerders van Laerskool Bertie Barnard het Donderdag 3 September Tuin-Op-Die-Brak besoek waar hulle op 'n interessante en leersame ontdekkingsreis oor die streek se endemiese plante en unieke fynbos geneem is.
Die besoek is deur Mate Pertunia Maphutha, senior omgewingsbeampte van die Hessequa-munisipaliteit, gereël as deel van 'n poging om jongmense meer bewus te maak van die gebied se besonderse natuurlike erfenis.
Andor Venter van Tuin-Op-Die-Brak het die besoek afgeskop met 'n insiggewende aanbieding met die tema, Planne met Plante.
Die leerders het meer geleer oor die verskillende maniere waarop plante by uitdagende toestande in hul omgewing aanpas en oorleef.
Ná die aanbieding het Venter die groep deur die tuin geneem, waar hulle die verskillende plantspesies van nader kon besigtig.
Anna Francies het die leerders vervolgens deur die medisinale tuin geneem en meer vertel oor die medisinale eienskappe van verskillende plante, asook waarvoor dit tradisioneel gebruik word.
Die sonwyser en labirint het besonder baie belangstelling gewek. Die labirint het boonop vir heelwat pret gesorg toe die leerders mekaar uitgedaag het om te kyk wie die roete die vinnigste kon voltooi sonder om van die paadjie af te wyk.
Een van die spesiale ervarings was die besoek aan die braille-roete. Dit het die leerders die geleentheid gebied om deur aanraking en hul ander sintuie 'n beter begrip te kry van hoe 'n blinde persoon die tuin en sy plantewêreld kan ervaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’