STILBAAI NUUS - Om Internasionale Plantwaarderingsdag te vier het Marinda van As en Erin Martin van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) 60 gr. 6- en 7-leerders van Melkhoutfontein Primêr op Dinsdag, 14 April, na Tuin-Op-Die-Brak gebring vir 'n baie leersame praatjie deur Andor Venter.
Die onderhoof, Reginald Baker en Celeste Fielies het hulle vergesel.
Venter het die groep deur die tuin gevat en daar is behoorlik gekyk, gevoel en geruik aan die verskillende plante terwyl sy meer vertel het van die spesifieke plant.
Om by almal te stop en te praat is natuurlik 'n onbegonne taak, want daar is meer as 280 verskillende plantspesies in die tuin.
Die groep het deur die braille-raakroete gestap en tyd verwyl by die analemmatiese sonwyser terwyl Venter vir hulle demonstreer het hoe die sonwyser werk.
Aan die einde van hulle staptog deur die tuin het hulle by die medisinale plante meer geleer van die waarde van medisinale plante en waarvoor elke spesifieke plant gebruik word.
Gouritz-groepsbiosfeerreservaat het die leerders met 'n koeldrank bederf voordat hulle weer terug is skool toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’