STILBAAI NUUS - Die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR), was Woensdagaand, 20 Mei, die gassprekers tydens die Stilbaai-besigheidsforum se netwerkaand by Rijké Distillers.
Die onderwerp van die aand was sake en natuur in sinergie. 'n Praktiese gesprek oor hoe die omgewing besigheid en besoekers beïnvloed - van watersekerheid en veldbrande tot eko-toerisme en volhoubare groei.
Hulle het voorberei vir 80 mense en daar was nie plek vir 'n muis nie, want Stilbaai se mense is omgeemense. Hulle gee om vir mekaar en hulle gee om vir die pragtige natuur rondom hulle.
Met hulle aankoms het elkeen 'n heerlike koppie sop en vetkoekvingertjies gekry om die koue te verdryf en toe het Duhne Liebenberg die eerste spreker aan die woord gestel.
Andrew Stroebel, direkteur op die raad van GCBR en 'n ou bekende in Hessequa en die Tuinroete, was eerste aan die beurt en het die belangrikheid van die pragtige natuurskoon om Stilbaai as 'n belangrike lokmiddel vir toerisme en vakansiegangers beklemtoon.
Daarna het Linda Fletcher, waarnemende HUB van die GCBR 'n bietjie gesels oor die impak van klimaatsverandering, onvolhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne, sosio-ekonomiese uitdagings en die tekort aan fondse.
Sy het afgesluit deur te beklemtoon dat die natuur die dryfveer is vir besigheid in Stilbaai.
Dr. Wilhelm de Beer, landskapkoördineerder van die GCBR, het die meer tegniese detail aangeraak. Hy het onder meer die fynbos bioom, waarvan die GCBR deel is, beskryf en gesê dat die GCBR 'n UNESCO biosfeerreservaat is met meer as 5 000 inheemse plante en meer as 670 endemiese plante.
'n Baie interessante feit wat baie min mense weet is dat die Agulhas-seestroom wat suid beweeg anderkant die Breederivier omdraai en weer teen die kus op beweeg. Die gemors wat dus op ons strande uitspoel kom nie vanuit die Gouritzrivier nie, maar wel van die Breederivier.
'n Ontsettend leersame aand is afgesluit met heerlike pizzas, terwyl almal gesellig saamgekuier het.
Indien jy 'n vriend van die GCBR wil raak en hulle finansieël bystaan kan jy 'n e-pos aan [email protected] stuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’