RIVERSDAL NUUS - Altesaam 215 nuwe stemgeregtiges is verlede naweek tot die Hessequa-streek se kieserslys toegevoeg. Nagenoeg 1 700 het hul inligting by die onderskeie registrasieplekke tydens die eerste registrasienaweek bevestig.
Die Hessequa-streek het 71 918 inwoners, waarvan sowat 75% stemgeregtig is. Altesaam 34 667 is reeds geregistreer.
Volgens die amptelike syfers van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het 149 mense tussen 16 en 29 jaar oud in die Hessequa-streek geregistreer.
"Dit is van kardinale belang dat ons jeug betrokke raak om ‘n beter toekoms te verseker,” sê Tertuis Simmers, die DA se provinsiale leier en Hessequa-kiesafdelingshoof.
"Die registrasienaweek het ons ook die geleentheid gebied om die vele nuwe inwoners te ontmoet. Dinge het meestal vlot verloop en ‘n goeie gesindheid is gehandhaaf."
Hessequa het 17 raadslede waarvan nege DA is en dus word dié munisipaliteit met 'n volstrekte meerderheid beheer.
Aktiviste van die Vryheidsfront Plus, Die Patriotiese Alliansie en die ANC het ook nuwe kiesers gewerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’