NASIONALE NUUS - Sy sien daarna uit om saam met pres. Cyril Ramaphosa te werk en in sy kabinet te dien, het Patricia de Lille, die nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur vanoggend aan die George Herald gesê.
De Lille het gepraat enkele ure voordat sy later vandag as minister in die kabinet ingehuldig word.
De Lille het vertel dat sy Woensdagmiddag kort na 14:00 'n oproep van Ramaphosa gekry het om hom te gaan sien in Pretoria. Sy was in daardie stadium nog in Kaapstad en sy het geen idee gehad waaroor dit gaan nie.
Sy het Pretoria toe gevlieg en omstreeks 18:00 vir Ramaphosa ontmoet.
"Hy het my gevra of ek bereid sal wees om in sy kabinet te dien."
Volgens De Lille was sy baie verras. Hy het aan haar verduidelik dat hy dink sy is regte persoon om die nuwe portefeulje van infrastruktuur en openbare werke te vul en dat sy 'n groot bydrae kan maak.
Sy kon nie nee sê en het ingestem.
De Lille het gesê sy was nog altyd bereid om die land in enige kapasiteit te dien.
Sy glo mense moet Ramaphosa se hande vat. "Hy het die land weer hoop gegee."
Sy bly die party se leier en Good sal steeds sy rol as opposisie vervul.
Good is reeds besig met voorbereidings met die oog op die 2021 munisipale verkiesing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'