NASIONALE NUUS - ‘n Vierjarige kleuter en vier ander mense is dood in verskillende ongelukke wat die naweek op die N4 en rondom Middelburg gebeur het.
Na wat verneem word was die kleuter een van die nege insittendes in ‘n Toyota bakkie wat in die rigting van Nelspruit op die N4 gery het.
Volgens inligtingting van bronne op die toneel, het ‘n voertuig wat in dieselfde rigting as die Toyota gery het gegly en met die bakkie gebots.
Die kleuter is op die toneel dood verklaar en ten minste sewe ander pasiënte is met Watco en Hi Tech ambulansdienste hospitaal toe vervoer.
- In dieselfde tyd wat nooddienste op hierdie toneel was, is daar net ‘n entjie verder op die N4, regoor die Middelburgdam, ‘n voetganger doodgery.
- ‘n Klein rukkie later is nog ‘n voetganger doodgery op die Vandyksdrifpad (R575). Die trok wat hom doodgery het, het nie gestop nie.
Daar was Sondagoggend ook twee ongelukke in die dorp:
- ‘n Citroen het kort na middernag gister in Cowen Ntulistraat naby die ingang van die Amora Dierepark gerol. Die jong man wat bestuur het, het weens skok weg gehardloop, maar is kort daarna gevind. Hy het ernstige beserings opgedoen.
- Sondag omstreeks 01:30 was daar ‘n ongeluk op die hoek van Samora Machel- en Kogelstraat waar ‘n VW Polo en ‘n Hilux bakkie mekaar getref het. Buiten snye en skok, het niemand ernstige beserings opgedoen nie.