Só sê die 23-jarige vrou wat een van die mans wat Oscar Pistorius se huis in Pretoria in ’n “partytjiehuis” wil omskep, van ’n rits misdrywe beskuldig – waaronder intimidasie, naamskending en motordiefstal.
Sy het Sondag strafregtelike klagte by die Garsfontein-polisiekantoor in Pretoria teen David Scott Laughland (33) aanhangig gemaak.
Die vrou van Kestell in die Vrystaat wil naamloos bly uit vrees vir viktimisering.
Sy het by die polisiestasie aan Netwerk24 gesê sy is nege weke swanger met sy kind, maar het ’n beskermingsbevel teen hom gekry. Sy beweer hy het haar gevange gehou in ’n huis in die spoggerige Silver Lakes-landgoed, naby Pistorius se ou huis.