RIVERSDAL NUUS - Plaaslike inwoners en besoekers van omliggende dorpe bring gereeld besoek aan Jurisch Park. Die park is geleë net na die ingang by die Riversdal-rolbalklub.
Die park is in 1963 as 'n natuur-tuin geproklameer en was altyd een van Riversdal se groot bates en 'n besienswaardigheid.
Die meeste besoekers gedra hulle heel goed, maar daar is tog 'n paar morsjorse wat niks daarvan dink om hul kitskosbakkies, servette en allerhande papiere en leë koeldrankhouers net daar te strooi nie.
Hulle het geen skaamte nie.
Maar daar is altyd 'n paar skorriemorries wat 'n treetjie verder gaan en bier- en wynbottels stukkend slaan en die glasstukke net daar los. Dis veral oor naweke wanneer die gebreekte glasstukke hul onwelkome opwagting maak.
Suid-Kaap Forum het verlede week daar gaan inloer en op 'n paar trappe by die monument 'n klompie glasstukke sien lê en ook op die grond waar mense en kinders verbystap. Met dié soort afstootlik gedrag bederf en ontsier die belhamels die mooi uitspanplek en omskep hulle dit in 'n potensiële gevaarsone.
Maandagoggend was die terrein rommelvry nadat dit Sondagmiddag nog erg onder die morsjorse deurgeloop het.
Dat daar nie 'n vullishouer byderhand is nie, is geen verskoning om die monument of terrein te bemors nie. Onder die bome naby die rolbalbaan staan wel 'n groen drom. Dis dalk 'n aks te ver vir die rommelstrooiers.
Suid-Kaap Forum het die Hessequa-munisipaliteit om kommentaar genader om te hoor hoe gereeld hulle die omgewing skoonmaak.
Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie, sê die munisipaliteit se departement parke en reiniging in Riversdal is verantwoordelik vir die skoonmaak van die park.
"Siende dat baie plaaslike inwoners, asook die van omliggende dorpe by Jurisch Park kuier en ontspan, word dit twee keer per week, op Maandae en Woensdae, skoongemaak en gedurende vakansietye en -dae soms ook op 'n Vrydag."
Didi sê daar is reeds begroot vir die aankoop van addisionele vullishouers vir die 2022/2023 finansiële jaar en van hulle sal ook by Jurisch Park uitgeplaas word. "Hessequa-munisipaliteit streef daarna om die beste diens aan inwoners te lewer en doen 'n beroep op inwoners om ons hande te vat sodat ons saam kan werk om ons dorpe en omgewing skoon te hou."
'n Bekommerde leser het Suid-Kaap Forum bedag gemaak op die rommelstrooiery by Jurisch Park.
Oor naweke bestrooi besoekers die plek, maar op Maandae ruim die munispaliteit weer alles mooi op. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'