MOTOR NUUS - Tradisioneel is April 'n swak verkopemaand vir die voertuigbedryf, maar desondanks het die totaal van 36 346 eenhede gedui op 'n verbetering van 1 260 verkope teenoor April verlede jaar. Dit was veral die passasiermotor-komponent wat goed gevaar het met 'n totaal van 23 928 - 'n verbetering van 1 438 eenhede.
Ligte handelsvoertuie, daarenteen, het ietwat gesukkel en die 10 580 eenhede wat verkoop is was 127 minder as 'n jaar gelede.
Die toptien-lys het min verrassings opgelewer. Toyota bly in die eerste plek met 'n totaal van 8 213 - maar nogtans 3 000 eenhede minder as in Maart. Toyota se uitgebreide modelreeks van 20 (Lexus ingesluit) het deur die bank gesukkel en net Hilux (2 679) en Quantum (1 021) kon die viersyferkerf haal. Die Lexus-reeks het in totaal 'n beskeie 48 verkope aangeteken.
Ook by Volkswagen - wat steeds tweede is - het die totaal van 6 261 verkope die oë laat rek omdat dit neerkom op 'n daling van nagenoeg 1 300 eenhede. Oudergewoonte was Volkswagen se presteerders die Polo Vivo (2 143), gevolg deur Polo op 1 907 en Tiguan wat met 424 verkope steeds Toyota se RAV (337) gemaklik troef.
Ondanks 'n verkopedaling van meer as 2 000 klou Ford SA steeds aan sy derde plek onder die toptien met 3 570 verkope wat sterk steun op Ranger (2 372). Dis eintlik verstommend dat die res van die Ford-span (sewe modelle) vir die balans moes sorg.
Intussen blaas Nissan (3 403) sterk in Ford se nek ondanks 'n daling van 2 007 eenhede in sy totaal. Nissan steun sterk op sy NP200 (1 058), maar sy 11 passasiermodelle sukkel maar. Die uitsondering hier is Datsun GO wat 447 nuwe eienaars se harte gesteel het.
Die vyfde plek in die toptien behoort steeds aan Hyundai met 2 633 verkope. Dit was ''n geringe daling van nagenoeg 400 eenhede. Hyundai se uitblinkers was weer Grand i10 (1 013) en Creta wat goed vaar met 611 eenhede verkoop.
Die eerste Franse vervaardiger en invoerder, Renault, het van sewende na die sesde plek opgeskuif ondanks 'n verkopedaling van nagenoeg 300 eenhede vir 'n totaal van 1 611. Renault neem hiermee die plek in van Mercedes-Benz (1 385) wat na die agtste plek moes afskuif te midde van toenemende kommer oor bougehalte. Renault maak staat op Kwid (693) en Duster (261) om sy totaal te ondersteun.
BMW wat in Maart in die agtste plek was, skuif met sy totaal van 1 393 verkope bo Mercedes-Benz in.
BMW se topverkopers is weer sy 3-Reeks (502) wat nie meer plaaslik gemonteer word nie, asook die X3 (244) wat nou by Rosslyn digby Pretoria gebou word. Die oulike maar peperduur X2 (41) het ook nie juis die verbeelding aangegryp nie. Baie kopers is klaarblyklik van mening dat dieselfde, of beter, gehalte teen 'n beter prys elders beskikbaar is.
In die negende plek staan Isuzu steeds taamlik sterk al is daar net een model (KB). Isuzu se total verkope van 1 310 is ook nagenoeg 200 eenhede swakker as in Maart.
KIA (1 304) blaas al meer in Isuzu se nek ondanks 'n daling in sy verkope van meer as 200 eenhede. Uitblinkers vir KIA was Picanto (798), Rio met 246 verkope en Sportage wat darem 114 kopers kon oortuig.
In sekere opsigte was April 'n dramatiese maand met Fiat/Alfa Romeo en Chrysler/Jeep wat hul samesmelting finaliseer het en nie in staat was om aan Naamsa verslag te doen oor hul verkope nie. Daar word bereken dat hulle totaal in die orde van 350 eenhede was.
Onder die invoerders wat buite die toptien-lys beweeg, het Mazda uitstekend gevaar met 'n indrukwekkende totaal van 1 294 wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan CX-3 en CX-5 (albei 378) en die BT-50 bakkie wat met 106 verkope die eerste keer die toptien-lys vir ligte handelsvoertuie haal.
Volvo Cars sal redelik tevrede voel met sy 207 verkope waarvan 36 toegeskryf kan word aan die XC90 wat in 2016 motor van die jaar was en waarvan die prys meer as R1,2-miljoen is.
Jaguar/Land Rover sal beslis wil verbeter op sy totaal van 305, terwyl Mitsubishi Motors ook baie beter kan doen as sy 123 verkope. Veral die skitterende Pajero Sport verdien 'n groter sny van die verkopekoek.
Honda se totale verkope van 446 eenhede kan aan twee redes toegeskryf word; sy modelreeks begin verouderd raak en is terselfdertyd te duur. Dit verklaar waarskynlik ook waarom kopers in groot getalle na Mazda en in 'n mindere mate na Suzuki oorskuif. Laasgenoemde sal ook besorg wees oor sy totaal wat in April slegs 697 was teenoor Maart (1 011).
Ekonome verwag steeds dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met 2% kan groei, wat sal beteken dat 2018 se voertuigverkope met tot 3% kan verbeter - gemeet teen die totaal van 2017.
Toptien passasiermotors
- Volkswagen Polo Vivo - 2 143
- Volkswagen Polo - 1 907
- Hyundai Grand i10 - 1 013
- Toyota Fortuner - 879
- KIA Picanto - 798
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 771
- Toyota Etios - 729
- Renault Kwid - 693
- Hyundai Creta - 611
- BMW 3-Reeks - 502
Toptien ligte handelsvoertuie
- Toyota Hilux - 2 679
- Ford Ranger - 2 372
- Isuzu KB - 1 071
- Nissan NP200 - 1 058
- Nissan NP300 - 370
- Nissan Navara - 261
- Volkswagen Amarok - 208
- Toyota Land Cruiser PU -192
- Mahindra Scorpio Pik Up - 130
- Mazda BT-50 - 106