MOTORING NUUS - Die verkope van nuwe voertuie in Augustus vanjaar (passasiersmotors en ligte handelsvoertuie) het 'n geringe (2,5%) maar onverwagte daling van 1 234 eenhede vir 'n totaal van 47 924 eenhede getoon.
In die geval van passasiervoertuie was die totaal 31 447, terwyl ligte handelsvoertuie ietwat beter gevaar het met 'n totaal van 13 956 (5,8% minder as in Augustus 2017).
Toyota (10 869) was wéér die suksesvolste vervaardiger, maar gevaarligte flikker aangesien dit afsteek teen Julie se 12 840 verkope. Oudergewoonte was die immergewilde Hilux die bakkie-topverkoper met 'n totaal van 3 366 - teenoor Ford Ranger se 2 535. Ander topverkopers in die Toyota-stal sluit in: Corolla/Auris/Quest (1 151), Etios met (900) en Fortuner (888). Die nuwe Rush (eintlik 'n Daihatsu) het gesorg vir 300 verkope, terwyl Toyota se luukse afdeling - Lexus - voortsukkel met 'n beskeie totaal van 58 verkope. Dit was merkwaardig dat Volkswagen se Tiguan in Augustus met 417 verkope, Toyota RAV se 268 behoorlik getroef het.
Van Volkswagen (7 932) gepraat: vir die eerste keer in maande was Polo (3 414) die algehele topverkoper, terwyl verlede jaar se Polo, wat die Vivo-etiket en ouer tegnologie dra, darem 1 900 verkope kon aanteken.
Die genoemde gevaarligte flkker ook vir die groep se Amarok met beskeie verkope van 181 eenhede. Selfs Hyundai se plaaslik gemonteerde H-100 het beter gevaar met 337 verkope, terwyl die ruwe Mahindra Scorpio Pik-Up (248) ook beter as die Amarok gevaar het.
Jammer dat Mercedes-Benz so skugter is ten opsigte van hulle nuwe X-klas, want ek vermoed dat die koms van hierdie nuweling ook druk op die V6-Amarok se verkope uitoefen.
Na 'n skrikmaak deur Nissan twee maande gelede, is Ford (4 979) net-net met 43 eenhede voor Nissan. Ford word, soos altyd, gered deur Ranger, terwyl 118 nuwe eienaars met Mustangs gaan spog. Die pas opgekikkerde EcoSport het 537 nuwe eienaars se harte gesteel, terwyl Fiesta se 393 verkope heel redelik is. In die vierde plek onder die toptien word Nissan (4 936) 'n groot bedreiging vir Ford, danksy sy handelsvoertuie soos NP200 (1 634), en NP300 met 905 verkope.
Onder die passasiermotors is dit net Datsun GO (631) en Almera met 405 verkope wat beïndruk het. Die vyfde plek behoort steeds aan Hyundai (3 169) wie se Grand i10 (1 020 verkope) en i20 (673) die pot aan die kook hou. Die aantreklike Tucson het ook goed presteer met 354 verkope wat beter was as Toyota RAV se genoemde beskeie 268 eenhede wat nuwe eienaars gevind het. Na etlike jare aan die onderpunt van die lys, het Renault intussen stil-stil goed gevorder met 'n Augustus-totaal van 2 161 - meer as 300 eenhede beter as in die vorige maand. Renault se wenners het bestaan uit Kwid (767), Sandero II (683) en Clio IV (408).
In die sewende plek en meer as 200 verkope agter Renault, is Mercedes-Benz se 1 949 totaal nie juis indrukwekkend nie. Hierdie vervaardiger verseg ook om individuele modelverkope bekend te maak. In die verlede was Mercedes-Benz en BMW dikwels kop-aan-kop, maar intussen het Isuzu in die agtste plek ingeskuif met 'n heel redelike totaal van 1 919. Dit is amper 300 verkope beter as in Julie. Hiervan het die KB-bakkiereeks altesame1 542 verkope bygeda, terwyl MU-X vir 83 verkope gesorg het.
Kia (1 750) klou stewig aan sy negende plek danksy Picanto met 1 071 verkope, Rio (340) en Sportage met 'n stewige 208 verkope. Nie een van sy ander modelle was in staat om dubbelsyfers te haal nie.
En dan kom ons by die laaste skapie in die kraal - BMW met 1 537 verkope. Dit is nog 'n vervaardiger wat glo dat die publiek nie hoef te weet hoe sy individuele modelle vaar nie.
Onder die vervaardigers en invoerders wat tans buite die toptien-afdeling val, kan ons gerus 'n ogie hou op Suzuki. Vanaf 'n beskeie maandelikse gemiddeld van 400 verkope, word tans gereeld deur die viersyfer-kerf gebars. Suzuki se 1 040 verkope kan binnekort aansienlik verder verbeter sodra die nuwe Jimny 1,5 in November bekend gestel word. Onder die luukse en nismark-voertuie buite die toptien-lys, staan Porsche oudergewoonte stewig met 109 verkope - amper binne bereik van Fiat/Alfa Romeo/Jeep se uiters nederige totaal van 147.Eienaardig ook dat die über-luukse drieling, Bentley (3), Maserati (5) en Ferrari (3), feitlik elk maand dieselfde syfers aanteken. Ander vervaardigers wat vermelding verdien, sluit in: Volvo (287) met die XC60 (92), XC40 (73) en XC90 met 62 verkope wat die telbord aan die rol gehou het. Jaguar/Land Rover sal sekerlik wonder wat hulle nog moet doen om hulle 392 verkope tot by die 500-kerf op te skuif waar hulle hoort.
Intussen verswak die rand daagliks, koperonsekerheid neem toe en Naamsa het sy 2018-voorspelling (totale verkope) afwaarts aangepas van 366 000 na 340 000.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'