MOTORING NUUS - Die plaaslike motorbedryf het in die derde kwartaal ten spyte van swak ekonomiese vooruitsigte, taamlik sterk vertoon.
Toyota is steeds los voor nadat hy in Augustus altesaam 10 751 eenhede verkoop het.
Die afgelope maand se sterverkopers sluit die seg-mentvoorlopers Toyota Hilux (3 392), Quantum-minibus (1 443), Fortuner (1 070), RAV4 (651) en die Toyota Avanza (531) in.
Volgens die jongste Naamsa-verslag het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) 'n merkwaardige 5 360 passasiersmotor- en 'n respektabele 5 064 ligte handelsvoertuie (LHV) van die hand gesit.
Toyota se vragmotorafdeling, Hino, het in die afdelings vir medium- en swaarhandelsvoertuie ook goed vertoon met onderskeidelik 140 en 111 verkope.
Die Hino 300 het 'n gesonde maand agter die rug en het 'n markaandeel van 22,1% in die afdeling vir mediumhandelsvoertuie aangeteken.
Wat weelde voertuie betref, het Lexus 12 van sy LC 500's verkoop terwyl 19 NX'e en 18 LX-modelle nuwe eienaars gekry het.
Calvyn Hamman, TSAM se senior visepresident vir verkope en bemarking, het dit só gestel: "Dit is amper altyd tipies van ons fabrikaat om verkooptendense uit te daag.
Terwyl die ekonomiese vooruitsig steeds onseker is, het Toyota se verkope veerkragtig gebly. Die plaaslik vervaardigde Hilux is weer die topverkoper in sy segment asook in die hele mark vir die jaar."
Toyota is ondanks die daling tot onlangs in passasiersmotorverkope steeds bo-aan die lys van die tien voorste verkopers vir die jaar sover met Fortuner, Etios, Quest en RAV4 almal as segmentvoorlopers.
'Ons bring jou die nuutste motoring nuus'