MOTORING NEWS - Einde Oktober het die skote vir ovaalbaanrenne op George vir die eerste keer na die begin van grendeltyd weer geklap. George Motorklub het die Covid to the floor-byeenkoms sonder toeskouers aangebied. In die 9 klasse was daar altesaam 80 karre ingeskryf, so uitgehonger was die deelnemers vir jaag.
Die formaat was `n geslote byeenkoms, soos bepaal deur Motorsport SA se Covid reels. Die byeenkoms is gebeeldsend via die internet en toeskouers kon virtuele kaartjies koop en by die huis die ren volg.
Maar, dit is beslis nie dieselfde sonder die reuk van braaivleis nie. Ek was darem daar en het nog olie en petrol geruik!
In al die klasse was die gort gaar. Die ontwikkelingsklas het soveel deelnemers gehad dat die organiseerders besluit het om hulle in 2 klasse te deel - beginner en gevorderde. Die gevorderdeklas is skitterend deur Marius Wagner met sy VW Golf gewen, terwyl die beginnerklas gewen is deur die jonge Qudo de Wet van Worcester, ook in `n VW Golf.
Vir die eerste keer op die Georgebaan was daar `n klas net vir Mini`s. Die gemiddelde ouderdom van die kinders was sowat 8 jaar en die wenner was Zion du Plessis.
Die 1660-klas het gekook met al die SWD se vinnigste motors in die klas op die baan. Heeldag was dit `n stryd tussen Izaan Keller en Wayne Skinner, albei in supervinnige VW Golf`s. Keller het net-net die vlag voor Skinner weggeraap om die klas te wen.
Die parapleeg Eddy Banks van Port Eizabeth het die Heavy Metal Klas gewen met sy vinnige BMW.
Soos nou `n gewoonte op George, was die Cross Carts - pypkarre met motorfietsenjins weer daar - en was dit deurgaans ‘n stryd tussen pa en seun. Pa Anthony Oudtshoorn was eerste met Waldo Oudtshoorn in die tweede plek.
Die 2.1-klas het net soveel aksie opgelewer. Hendrickus Botha het heeldag gesukkel om sy Mazda/Opel te laat werk. Die klas is uitstekend gewen deur Tygerberg Motorklub se Andries Brand, met Oudtshoorn se Henties de Villiers in sy Corsa tweede.
Die Hotrodklas is totaal oorheers deur die blitsige Opel Corsa van Francois Smit van Worcester. Dit het nie saak gemaak waar hy begin nie, sy wenplek was altyd eerste. Agter hom was George se Shaun Potgieter met sy pragtige VW Scirocco.
Die Heavy Metal-klas is gewen deur die parapleeg en legende van Port Elizabeth, Eddie Banks, met sy vinnige BMW. Tweede was Sydney van Rensburg, met Nadia Jubber derde.
In die gemodifiseerde V8-klas het die vonke gespat. Lucuis Fourie het geskitter met sy pragtige Nissan V8-aangedrewe flexi. Hou dié naam gerus dop… ek is selde verkeerd. Tweede was Albert Olivier en Lodewyk Lotz was derde.
Die volgende wedrenne in die SWD is die jaarlikse Richard Griessen Klein Karoo Kampioenskap in Oudtshoorn op 21 November. Die byeenkoms gaan ook sonder toeskouers plaasvind en kaartjies sal verkoop word vir aanlyntoeskouers. Die inskrywings vir die byeenkoms het reeds die 90-merk bereik. Kontak vir Dirk van der Westhuizen op 072 854 8830 vir navrae oor die Klein Karoo Kampioenskap byeenkoms.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'