Gallery
TUINROETE NUUS - Die 2018 Erfenistoer skop Saterdag af vir ‘n reis na verskeie dorpe aan die Weskus om die blommeprag te geniet. Altesaam 51 deelnemers in 27 voertuie, wat tussen 1815 en 1975 vervaardig is, neem deel aan die toer.
Jan en Anita Wright van Danabaai neem vanjaar vir die vyfde keer in hul 1957 Morris Minor 1000 deel aan die Erfenistoer. “Die voertuig is al amper 13 jaar in ons besit,” vertel Jan. “Ons het hom opgespoor langs ‘n gebou wat hulle besig was om te restoureer, en hy was omtrent toe van die sement.”
“Sedertdien het ons al vier toere met hom meegemaak en al baie vreugdevolle myle met hom deurgemaak. Wat besonders is aan die motortjie is sy kleinheid en betroubaarheid van die Morrissie. Soos die Engelse sal sê, “the biggest smallest car in the world!”
Maritz Stander ry ook vanjaar weer saam met Pierre Conradie, maar vanjaar onderneem hulle die toer in Pierre se 1960 Studebaker Champ-bakkie. Pierre en Tilly Olivier ry weer met die blou1962 Morris Minor 1000.
At Weyers en sy vrou, Mare van George, neem vanjaar vir die vyfde keer deel met die driewielmotorfiets, wat At so 10 jaar gelede volgens sy eie plan met ‘n 1400 Nissanbakkie-enjin gebou het.
Japie van Rooyen van Groot-Brakrivier, een van die stigterslede van die Suid-Kaap Oumotorklub, en sy vrou Mariaan neem deel in sy 1957 Borgward Coupe. “Net drie van hierdie Borgwards het na Suid-Afrika gekom,” vertel Japie, wat ook ‘n 1954 Borgward Sedan besit.
At se trike!
Gerhard Hoepfner en sy vrou, Fienie, neem deel in hul 1948 Chevrolet, en Jannie Stander en sy vrou, Amanda, in hulle Pontiac Bonneville.
Die toer val saam met nasionale Erfenisdag en is een op die hoogtepunte op die Suid-Kaap Oumotorklub se kalender. Dit gee eienaars vanjaar die geleentheid om hul liefde vir veteraan- en klassieke motors met die gemeenskappe van die dorpe aan die Weskus te deel.
Die deelnemers kom op 21 September by Matroosberg 4x4 buite Ceres bymekaar. Op 22 September vertrek hulle oor Malmesbury, Darling en Yzerfontein na Velddrif, waar hulle oornag. Op 23 September vertrek hulle na Piketberg en Leopoldtville, dan na Lambertsbaai, waar hulle oornag.
Op 24 September ry hulle oor Clanwilliam, Citrusdal en Porterville terug na Ceres, waar hulle weer by Matroosberg 4x4 oorbly en waar die toer op deftige wyse afgesluit word met ‘n gala-aand.
Op 25 September vertrek die groep van die Tuinroete oor Heidelberg terug huis toe.
Kontak Pierre Olivier, voorsitter van die reëlingskomitee, by 082 872 6456 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'