Gallery
MOTORNUUS - The Tint & Vehicle Accessories Shop-klubbyeenkoms in die SWD-ovaalbaanreeks vir 2021 is die afgelope Saterdag, 10 April, in Oudtshoorn afgehandel.
Sowat 50 motors en twee bakkies het ingeskryf vir 'n middag van lekker motorsport. Daar was 'n hele paar verrassings en in al die klasse was daar taai kompetisie.
Dit was warm en die windjie het alles op die baan omgekrap. Die watertrokke moes gereeld natmaak soos die wind die baan uitgedroog het.
Fotogalery: Motorsport in Oudtshoorn
In die Ontwikkelingsklas was die gort gaar tussen Bernard Wessels, Corné Nortjé en Marius Wagener, almal in Golfies. Dit was egter Wessels wat die geruite vlag voor Nortjé weggeraap het met Wagener in 'n puik derde plek.
Albert Olivier jr. - net 20 jaar oud - het 'n opskudding veroorsaak toe hy met die louere weggestap het in die Gemodifiseerde V8-klas, maar meer hieroor later.
Die nuwe Stockrod-klas is gewen deur Francois van der Hoogen in sy VW Golf, gevolg deur Franciska de Bruyn, ook in 'n vinnige Golf. Die jong dame het verras met haar puik jaagwerk in die eindronde. Om van nêrens te kom en dan te klop aan 'n wen wil gedoen wees.
Ek en Dirk van der Westhuizen het al twee tong in die kies gewonder of dit nie dalk haar pa, Bennie de Bruyn, agter die stuur is nie, so goed het sy gery! Theuns Eksteen was derde.
Noue ontkoming
Die jong 'hooligans', die 1660-klas was ook omgesukkel. Hulle adrenalien het so gepomp dat André Fouché my benoud laat spaander het toe hy na afloop van die wedren beheer oor sy Polo verloor en reguit op my afgepeil het. Dit het my laat dink aan Dozi se woorde, "Tussen my en jou, lê daar 'n berg", maar in ons geval was die berg gemaak uit bande... die skrik was groot.
Die klas het heeldag aan Burger van der Westhuizen behoort. Maak nie saak waar hy weggespring het nie, daai Ford Fiesta was gou-gou aan die voorpunt. Burger het die klas skitterend gewen met Tersius van Tonder agter hom. Die derde plek is ingeneem deur Mosselbaai se spietkop, Wayne Skinner.
Die 2.1-klas het ook goeie wedrenne opgelewer. Die klas is deur die legende van Oudtshoorn, Henties de Villiers in sy super vinnige Corsa/Mazda gewen. Daman Milles was tweede, met Raniel Koegelenberg van Kaapstad in die derde plek in sy pragtige Ford Fiesta.
In die Hotrod-klas het Shaun Potgieter van Mosselbaai en Han-Koch Brand van Kaapstad gewedywer vir die eerste plek. Die twee het mekaar die heeldag die stryd aangesê en Brand was net ietwat te sterk in die eindstryd. Die derde plek is ingeneem deur Clive Meyer.
Die Heavy Metal-klas is totaal oorheers deur George se Sydney van Rensburg in sy vinnige BMW 535. Die BMW's van Andre Keller en Corné Oosthuizen het hard probeer om by te hou, maar Van Rensburg was net te sterk. Keller was tweede met Oosthuizen in die derde plek.
In die Miniklas was Divan Meyer eerste, Zian du Plessis tweede en Hanro Stander derde.
Groot opwinding
Een van die hoogtepunte van die dag was verseker die Gemodifiseerde V8-klas. Die 15 renjaers was almal daarop uit om vir Bennie de Bruyn in sy Chevrolet Flexi te wen, en Corné Martin, in sy vinnige Benver Racing Lexus, kon daarin slaag om De Bruyn agter hom te hou en so die tweede uitdun skitterend gewen. Salo van Zyl het ook sy uitdun skouspelagtig gewen in sy Benver Racing Chevrolet. Na De Bruyn se voertuig se waaierband gebreek het, het Albert Olivier jr. vir die ou manne ore aangesit en die klas gewen in sy Lexus V8 Flexi. Die appel val duidelik nie ver van die boom nie! Corne Martin was tweede, gevolg deur Theuns Eksteen in derde plek.
De Bruyn se Chev Flexi was onlangs die eerste voertuig in die klas wat met 'n direkte dryfstelsel toegerus is en twee weke gelede sonder 'n ratkas in Bloemfontein deelgeneem het. Die dryfas is direk vanaf die enjin na die agteras gekoppel. Op die ewenaar was 'n toestel wat hy kon ontkoppel om die ewenaar in neutraal te skakel sodat hy die kar kon aanskakel. So op die baan was dit net een spoed. Ongelukkig was De Bruyn in Bloemfontein in 'n botsing betrokke wat sy monster erg beskadig het. Met die heelmaak na die tyd, het hy besluit om die motor terug te verander na 'n ratkas en gewone ewenaar. Hy het toe 'n onafhanklike Jaguar-agtersuspensie en -ewenaar gepas.
Met die veranderinge loop sy motor net so vinnig en was hy onkeerbaar in Saterdag se eindstryd tot hy ongelukkig moes onttrek.
In die nuwe Stockrodklas het Franciska de Bruyn puik gejaag en tweede geëindig in haar vinnige Golf. Foto: Bennie du Bruyn
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'