RIVERSDAL NUUS - Om bewusmaking te skep oor Wêreldvigsdag, wat elke jaar op 1 Desember gehou word, het Hessequa-munisipaliteit en Riversdal-kliniek op Vrydag 2 Desember saamgespan om 'n optog deur Riversdal se sakekern te hou.
Verskeie rolspelers het daaraan deelgeneem om te help om die boodskap in die gemeenskap te versprei.
Onder hulle was Hessequa-verkeer, Hessequa-brandweer, Working On Fire, Riversdal-polisie, Riversdal-kliniek, Riversdal-hospitaal, Hessequa-munisipaliteit se departement gemeenskapsontwikkeling, Voorwaarts Primêr en Riversdal Kindersorg.
Die optog het by die ingang van Riversdal-kliniek begin waarna die groep, begelei deur Voorwaarts Primêr se trompoppies, die sakekern deur Dicksonstraat ingevaar het. Besighede, wat al oop was, se personeel en klante het nuuskierig na buite gekom om te sien wat aangaan.
Die Droom-tuisversorgingspan was vol geesdrif.
Sagte reëndruppels het uitgesak, maar dit het nie die optog gestuit nie. Die groep wat deel uitgemaak het van die optog, het vasberade en vol lof deur die strate gestap agter die danspassies van die trompoppies terwyl hulle hul baniere en plakkate in die lig gewaai het vir die publiek om die boodskappe te lees.
Ná die optog is die gaste genooi om na geleentheidsprekers, wat met praatjies bemoedig het, te luister.
Personeellede van Riversdal-kliniek en beraders het ook seker gemaak die gaste dra kennis van al die dienste wat by hulle aangebied word - ook bykomende dienste soos 'n nuwe maatskaplike werker wat by die departement gesondheid in Riversdal begin.
Een van die gaste steek ‘n kers aan vir mense wat al hul lewens weens MIV/vigs verloor het.
Voorwaarts Primêr se trompoppies het die optog deur die sakekern gelei.
'n Groot groep mense het aan die vigsbewusmakingsveldtog deelgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'