Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Militêre Veterane-vereniging het Sondag 12 November kranse gelê ter ere van al die soldate wat in die twee wêreldoorloë, en alle oorloë daarna, gesterf het.
Dié eerbetoning word altyd op die Sondag naaste aan 11 November gedoen.
Gaste het gekom van sover as Jeffreysbaai, Franskraal en Riversdal.
Verteenwoordigers was die Rhodesian Light Infantry, Spesmagte, kapt. P. Uys, kapt. Molanari, Pretoria Highlanders, Op Savanna/EBO, SAPD, Jankowitz Familie, SA Infanterie, Geniekorps, Lugmag se Tweede Eskader, sktr. Van Wyk, SA Lugmag, 61 Meg Brigade, 61 Meg Brigade Op Askari, Kaffrarian Rifles, Rhodesian Airforce, MOTHS Namibië, Alison Mulder en die NSRI.
Die Eerste Wêreldoorlog het tot 'n einde gekom toe Franse, Britse en Duitse beamptes in die Compiégne-woud in die noorde van Frankryk in die persoonlike treinwa van die Franse bevelvoerder, Ferdinand Fouché, ooreengekom het om alle vyandelikhede te staak.
Die vlag hang halfmas.
Die wapenstilstand het elfuur daardie Novemberoggend begin en dit het die vier jaar lange oorlog beëindig. Talle rooi papawers het later gegroei op hierdie slagvelde soos beskryf in die gedig, In Flanders's Fields deur John McCrae en dit is waarom daar tot vandag toe nog rooi papawers op Wapenstilstanddag gedra word.
Jaarliks word daar in Brittanje, sowel as die Statebondslande op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand kranse gelê om al die soldate wat in die twee wêreldoorloë, en alle oorloë daarna, gesterf het te eer.
In die Eerste Wêreldoorlog alleen het 20 miljoen mense omgekom, 9 463 Suid-Afrikaners, 1,35 miljoen Britte, 1,93 miljoen Franse, 2,73 miljoen Duitsers, 2,75 miljoen Russe en 1,16 miljoen Italianers. Daar was ook 21 miljoen gewondes.
Allen Wall plaas 'n kruis namens SA Vloot.
Wapenstilstanddag in Stilbaai op Sondag 12 November.
Foto: Richard Webb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’