STILBAAI NUUS - Adjudant-offisier Stiaan Claassen van die Stilbaai-polisie doen 'n beroep op alle nuwe intrekkers met vuurwapens om hulle adresse so spoedig moontlik by die registrateur of die polisiestasie te verander.
Volgens die Vuurwapenwet no. 60 van 2000, seksie 25(1) moet sodanige adresverandering binne 30 dae gedoen word.
Die registrateur is dan verplig om ontvangserkenning te doen binne 30 dae van ontvangs van sodanige versoek.
Baie mense trek na 'n nuwe adres toe en die laaste waaraan hulle dink is die vuurwapenlisensies en die polisie moet weet waar alle wettige wapens hulle bevind.
Dit gaan jou baie moeite en tyd bespaar wanneer die lisensies hernu moet word, want alvorens die hernuwingsaansoek verwerk kan word moet die korrekte adres op die stelsel verskyn.
Claassen se raad is dat jy seker maak jy het die adresverandering gedoen. Indien nie moet jy hom so gou moontlik by die Stilbaai-polisiestasie besoek om dit reg te stel.
Die SAP 521(B) vorm is beskikbaar by die polisiestasie en dit tesame met 'n gesertifiseerde afskrif van die ID, bewys van adres en foto's van die kluis oop en toe moet ingehandig word.
Die ander saak waaroor hy baie sterk voel is die kwessie van wapens waarvan die lisensies reeds verval het.
In 'n onlangse hofsaak tussen die Staat en Fidelity Guards moes die minister van polisie toegee en enigiemand met sulke wapens kan nou aansoek doen vir hernuwing sonder nagevolge, want daar is kwytskelding van vervolging vir sulke gevalle toegestaan.
Maak seker dat al jou vuurwapens se lisensies op datum is en onthou dat jy 90 dae voor dit verval moet aansoek doen vir hernuwing.
Wanneer jy aansoek doen vir hernuwing moet jy eers 'n nuwe bevoegdheidsertifikaat bekom.
Jy gaan nie weer vir opleiding nie, maar doen net aansoek vir die nuwe bevoegdheidsertifikaat.
'n Lisensie wat verval het kan slegs deur die huidige eienaar hernu word. Eers daarna mag jy die vuurwapen verkoop of weggee.
Gaan doen die hernuwing so gou moontlik en kry dit agter die rug, want die polisie se vuurwapenregister wys in elk geval dat jou lisensies verval het en jy kan dit dus nie wegsteek nie.
Dit kan ook gebeur dat hulle opdrag kry om sodanige vuurwapens te konfiskeer en te vernietig en dit wil jy nie hê nie.
Kontak Adjudant-offisier Claassen by 076 703 9313 of 028 754 6107.
Inwoners van die res van Hessequa kan hulle plaaslike polisiestasies kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’