Gallery Update
STILBAAI NUUS - Vrye Weekblad se tweede boekefees het die afgelope naweek in Stilbaai plaasgevind en boekentoesiaste het van heinde en ver gestroom om dit by te woon.
Volgens Elna van der Merwe, organiseerder van die fees, was hier beduidend meer mense as met die eerste fees in 2022 en die Baptiste-saal was byna altyd stampvol.
Vrye Weekblad en die plaaslike organiseerders het duidelik baie moeite gedoen met die samestelling van die fees en verskeie hoëprofiel kommentators het opgetree.
Vrydagoggend het die fees afgeskop met 'n Italiaanse kookdemonstrasie by die Stilbaai-rolbalklub en die heerlike geure het selfs oor die baan gehang. Reinette Anastagi, bekroonde sjef bygestaan deur Wicus Pretorius, redakteur van die tydskrif Tuis en ook aanbieder by Fiësta op kykNET, het heerlike Italiaanse disse opgetower op 'n klein gasplaat, danksy beurtkrag.
Reinette, wat in Italië woon, se raad aan huiskokke is dat minder meer is. Sy sê jy moet kan proe wat jy eet en kruie moet jou kos komplimenteer. Almal teenwoordig kon agterna proe van die disse wat hulle voorberei het en dit het jou werklik meegevoer Italië toe.
Saterdagoggend het Daniel Hugo afgeskop en gesels met Chanette Paul oor haar werk, Die Vywervrou-reeks, en Frederik de Jager met sy boek Ver in die Wêreld. Die onderwerp was die plek van plek in skryf.
Na hulle het Lindie Stander en Ivor Swartz aan die beurt gekom en Deborah Steinmair van Vrye Weekblad het met hulle gesels. Albei van hulle het op 'n laagtepunt gedraai voordat hulle hulself kon omdraai.
Albei was met dwelms deurmekaar en hulle sukkel met die swart hond oftewel depressie. Hulle is dit ook eens dat alles begin het met trauma uit hulle kinderjare. Hulle beskerming was om hartseer om te sit in woede en albei het ontvlugting gesoek van die pyn en dit gekry in alles wat verkeerd is.
Lindie se boek, Agter my glimlag, en Ivor se boek, Kies die lewe, is twee boeke wat mens eenvoudig net moet lees om vir jou die agtergrond te gee en ook hoe moet jy maak as jy uit die moeras wil kom. Albei het genesing en terapie ontvang deur te skryf.
Elna van der Merwe het met Ingrid Jones, tannie Betsie en Therese Hulme gesels oor vissersvroue wat 'n bestaan maak in kusdorpies en agtergeblewe kinders wat geleer word om te dig. Ingrid se boek Beyond the blue: Women of the sea het ontstaan, want daar sit duisende vissersvroue by die huis. Hulle moet opgelei word om iets te kan doen wat geld inbring as die vis skaars is.
Hulle het uiteindelik 17 vroue gekies en hulle verhale gepubliseer.
Tannie Betsie is al in die 80, maar sy het 'n eetplek oopgemaak, Tannie se kombuis. Sy het 30 jaar vir Audrey Blignault gekook, so dan moet sy mos weet wat om te doen, sê sy. Therese Hulme se boek, Práát jy is 'n werkboek wat gebruik kan word in klaskamers om kinders te help om te kan skryf en dig.
FOTOGALERY: Vrye Weekblad se tweede boekefees
Laatoggend het Anastasia de Vries gesels met Irma Venter en Cas Wepener. Irma se boek Die Verkeerde Vrou en Cas Wepener se Roman was die besprekingspunt. Hulle skryf verskillend oor spanning, maar albei sleur jou mee tot aan die einde.
Max du Preez, Laureen Rossouw en Elna van der Merwe voor Vrydagaand se sessie 'Hoe oorleef ons SA se donker uur?' Foto's: Johan Victor
Saterdagmiddag het Wicus Pretorius van Fiësta-faam vir Gerda Taljaard en Kirby van der Merwe beetgehad. Wicus sê 'n boek is 'n mooi ding, maar wanneer en hoe word 'n voorblad gekies. Kirby se boek, Eugene, het 'n foto van 'n man met 'n afrohaarstyl op sy voorblad.
Hy het na die manuskrip geweet wat hy wil hê. Gerda se boek, Vier susters, speel op 'n plaas af en sy wou 'n kaal vrou op die voorblad hê. Daar is egter uiteindelik besluit op 'n plaashuis wat skeef gedruk is, want alles op die plaas word op sy kop gekeer in die boek.
Sondagoggend het Nico Steenekamp en Deon Begeman net so onder die dertig dapperes gevat vir 'n 8 km-staptog wat, onder andere, die Wafra by die NSRI, Skulpkombuis en die visvywers ingesluit het en toe is die boekefees amptelik afgesluit.
Chanette se boek speel oor twee tydperke, 150 jaar uitmekaar, af en hiervoor moes sy baie navorsing doen oor die strandveld. Dit is basies 'n spookstorie wat vertel word en daar is natuurlik ook 'n moord.
Frederik se boek is 'n samestelling van skrywers wat in die buiteland woon en wat dan vir hom stories gegee het. Hy sê liefde is 'n ewe groot waagstuk as 'n skuif na die buiteland.
Elna sal aanstaande jaar moet soek vir 'n groter lokaal, want hier is iets groots aan die gebeur. Stilbaai het weereens daarin geslaag om iets unieks hier te vestig en dit is besig om te stoomroller.
Daniel Hugo (gespreksleier), Chanette Paul (Die vywervrou)en Frederik de Jager (Ver in die wêreld).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'