Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Vrou het Sondagmiddag, 25 Junie, tragies op die N2 gesterf toe die motor waarvan sy die bestuurder was, trompop met 'n bakkie gebots en die pad verlaat het.
Die oorledene, Bongiswa Mkhwanazi (41), was glo vanaf die Oos-Kaap met haar suster en twee jong niggies vir die skoolvakansie op pad Kaapstad toe, toe die ongeluk om 14:15 sowat 11 km buite Heidelberg, rigting Riversdal, gebeur het.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, het 'n Mitsubishi Triton-bakkie met twee insittendes glo op pad na Stilbaai 'n plas water op die N2 geslaan en het die bestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en trompop met die aankomende Chery SUV gebots.
Laasgenoemde voertuig is van die pad af geslinger waar dit in die bosse beland het.
Die twee insittendes van dié bakkie is met ernstige beserings na Riversdal-hospitaal vervoer.
Die oorledene is op die toneel dood verklaar. Die drie insittendes van die motor, die suster van die oorledene en die oorledene se twee jong dogters, is met ernstige beserings na die Riversdal-hospitaal geneem.
Die twee in die bakkie is ook met ernstige beserings na Riversdal-hospitaal geneem.
Volgens Hendricks word 'n klag van strafbare manslag ondersoek.
Hendricks het 'n dringende beroep op alle bestuurders gedoen om tydens ongure weer baie versigtig en met baie geduld op die paaie te bestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’