STILBAAI NUUS - "Ek dink as my pa kon kies hoe om te sterf, sou hy tevrede gewees het met hoe dit gebeur het." Dis die woorde van Elzanne Fitton Retief, dogter van Nicol Retief van die Paarl wat Saterdag, 8 Augustus na 'n frats fietsongeluk op Stilbaai oorlede is.
Die 76-jarige Retief en sy vrou Vilheta was by hul huis in Waterkantstraat, Stilbaai vir 'n welverdiende ruskans toe die ongeluk plaasgevind het.
Sy dogter vertel haar pa was besonder fiks en aktief vir sy ouderdom: "Hy het nie geweet wat dit beteken om stil te sit nie en oud word sou vir hom baie moeilik gewees het. Dit was alles of niks, selfs wanneer hy geval het!"
Sy sê hy was besonder lief vir bergfietsry, maar hy was net so lief vir mense en kuier. Haar ma het niks vreemds daaraan gevind toe hy 10:00 Woensdagoggend, 5 Augustus met sy fiets gery het en teen 12:00 nog nie terug was nie. Toe hy egter glad nie vir ete opdaag nie, het sy bekommerd geraak en 'n soektog is van stapel gestuur.
Hy is uiteindelik in die Geelkrans-natuurreservaat opgespoor, waar hy toe reeds vir bykans vier ure met 'n ernstige nekbesering gelê het. Die besering het sy arms en bene verlam gelaat.
Na opname in 'n hospitaal in Mosselbaai is hy geopereer en die dokter was volgens Fitton Retief heeltemal tevrede daarna. Drie dae later het sy spinale koord egter skielik begin swel en sy asemhaling is heeltemal daardeur onderdruk, wat tot sy dood gelei het.
Fitton Retief sê haar pa was besonder lief vir Stilbaai en het al op die dorp vakansie gehou sedert vierjarige ouderdom. "Ek dink nie daar's 'n enkele paadjie op Stilbaai waar my pa nie gestap of met sy fiets gery het nie. Sedert die inperking begin het, het hy omtrent 2 000km per fiets afgelê."
'n Geleentheid vir familie en intieme vriende om sy lewe te vier word Donderdag, 13 Augustus by die Retief-woonhuis gehou. Slegs naaste familie kan geakkommodeer word. "Ons moes dit so beperk, want my pa het omtrent die hele land geken!" sê Fitton Retief.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'