RIVERSDAL NUUS - Munisipale werkers was Woensdagmiddag 20 Maart laat letterlik en figuurlik ópgewerk en omgekrap toe Suid-Kaap Forum foto’s van die chaos neem wat die opgrawings wat dié dorp se sakekern ontwrig en soos ‘n oorlogsone laat lyk.
“Hoekom neem jy foto’s? Ons werk hier!”
Verduideliking: koerant en die munisipaliteit weet daarvan.
“Dan het ek nie ‘n probleem nie.”
Die projek - ter verbetering van die elektrisiteit-infrastruktuur - vorder fluks. Slote wat oor ‘n straat gegrawe moet word, is binne ‘n dag oopgedolwe, die taak is verrig - en die gate is weer hervul. Gevolglik kan motors sonder min ontwrigting daar ry.
Ter viering van Menseregtedag is dit goed om te onthou dat jy ‘n reg tot vrye beweging en toegang het.
Regte vereis ook verantwoordelikheid.
Riversdal se motoriste en voetgangers moet veral oplettend wees op die hoek van Dickson- en Barry-straat. Die stopstraatteken met die straatnaambordjies is in ‘n sloot langs die Medidal-apteek gekelder. Mense wat gewoonlik aan daardie kant van die pad kon parkeer, moet nou voor Jack’s Paint stilhou. Twee rye motors langs mekaar daar is nou nie ongewoond nie, en dit veroorsaak ánder verkeersrisiko’s.
Inwoners moet daarop let daar is steeds ‘n stopstraat op daardie kruising.
Dit is jou reg om daar te ry en te loop - al word dit nou uitgedaag en belemmer. Neem eie verantwoordelikheid en beskerm jouself in jou oordeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’