Update
HEIDELBERG NUUS - Personeel van beide die ABET Geletterdheidsentrum en E-Centre wat die Diepkloof Jeugsentrum-perseel op Heidelberg gebruik om broodnodige dienste aan die gemeenskap te lewer, is al raadop vir die vandalisme wat keer op keer aangerig word.
Volgens die omgekrapte personeel besef die kwaaddoeners klaarblyklik nie dat hulle diegene wat van die sentrum se dienste gebruik maak, se ambisies belemmer nie.
Hulle noem dat dit veral Maandae-oggende en na vakansietye nie 'n plesier is om die perseel te betree nie.
Suid-Kaap Forum het die jeugsentrum Vrydag, 23 April besoek tydens die opleiding van jeugdiges wat deur Work 4 A living, 'n nie-winsgewinde organisasie aangebied word en is daar uitgewys hoe vandale die geboue weereebs geplunder en verniel het. Buiten die afskuwelike graffiti teen die mure by die ABET-sentrum se ingang, word die rioolstelsel se pype ook gevandaliseer.
Vandale het ook op Woensdagaand, 7 April toegeslaan waar hulle twee ruite verwyder en nog 'n paar ruite stukkend geslaan het.
Volgens die Abet-personeel het die kwaaddoeners vermoedelik toegang tot die sentrum probeer verkry. Hulle kon egter nie die veiligheidshek en vensterreëlings oopkry nie en het met die twee ruite weggekom.
Die kwaaddoeners plunder die sentrum gereeld en die advertensiebord spring ook nie vry nie. Naburige inwoners het genoem dat die plundery gewoonlik in die nagtelike ure geskied.
Die houer vir die ontsmettingsmiddel wat by Absa se kitsbank aangebring was, is ook gesteel. Volgens die sekuriteitsbeampte aan diens was die houer verlede naweek volgemaak voor hy van diens gegaan het. Met sy terugkeer Maandagoggend, 12 April, was die houer skoonveld.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel, plaaslike polisiekommunikasiebeampte het 'n waarskuwing gerig dat die polisie streng teen die oortreders gaan optree. Volgens hom het hulle iemand in verband met die verwydering en diefstal van die twee ruite ondervra. Dit is nog nie bekend of die persoon positief met die voorval verbind kon word nie.
Windvogel het 'n dringende beroep gedoen op enigiemand wat weet wie vir die plundery verantwoordelik is, om die polisie in kennis te stel (028 722 1910 of tolvry by 10111).
Die lig is ook gevandaliseer om plundery in die donker voort te sit. Foto's: Clive Pretorius
Iemand het die ontsmettingsmiddel wat by die kitsbank aangebring was, vasgelê.
Die rioolpype is erg beskadig.
Vorige artikel: Vandalisme duur voort
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'