RIVERSDAL NUUS - "Nie in ons wildste drome het ons soveel inskrywings verwag nie," sê Anja Louw, mede-organiseerder van die Ultra Trail Sleeping Beauty-bergwedloop (UTSB) wat op Saterdag 5 April in Riversdal aangebied word.
Altesaam 225 atlete het teen die spertyd op Maandagaand, 17 Maart, hul deelname bevestig en hul inskrywingsgeld betaal.
"Met die eerste aanbieding van só ’n tipe wedloop, wat uit vier verskillende afstande bestaan, is dit moeilik om te bepaal of te skat hoeveel atlete gaan inskryf.
In een stadium toe die getalle op 71 gestaan het, het ons gehoop vir so 100 inskrywings. Maar 225... Dis ongelooflik!"
Die organiseringskomitee, bestaande uit Anja, haar man, Chrisman, en Tielman Roos, is effe uit die veld geslaan oor die puik reaksie.
Die eenparige gevoel is dat die UTSB net gaan groei in gewildheid en 'n toename in deelnemers gaan ondervind.
Die toegegroeide wandelpaaie, wat met die hulp van lede van die plaaslike Voortrekkers, boere en ander vrywilligers weer oopgekap en mooi herstel is, is nou omskep in ’n pragtige roete met asemrowende uitsigte.
In elkeen van die vier afstande is voorsiening gemaak vir 'n maksimum van 100 inskrywings, waar die 10km-pretloop nou uitverkoop is, die 20km Halfmarathon 80% uitverkoop is, en die Marathon (40km) en Ultramarathon (65km) ook genoeg deelnemers het om 'n opwindende jaagtog na die eindstreep te beloof.
"Nou lê daar nog heelwat finale voorbereidings voor," vertel Anja.
"Die tyd is min, maar met spanwerk en fokus, glo ons alles sal betyds klaar wees vir 5 April.
Ons het fantastiese borge ingekry, onder andere First Ascent en Jakkalsvlei, asook heelwat plaaslike besighede, so die pryse is definitief iets om jou hart voor uit te hardloop.
Daar gaan ook heerlike kosstalletjies en musiek by die eindpunt wees op Windhoek Gasteplaas, sodat die hele familie die dag saam kan kom geniet."
Hier kom iets besonders...
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’