RIVERSDAL NUUS - Die tyd het aangebreek dat ek afskeid moet neem. Ja, ek het aftree-ouderdom bereik, hoewel dit in die stadium nog baie onwerklik voel.
Toe ek 50 geword het, het 65 nog baie ver in die toekoms gelyk. Maar sommer baie vinnig daarna, of so het dit gevoel, vier ons my 60ste verjaarsdag. En nou lê my 65ste voor die deur.
Om aan die stuur van 'n gemeenskaps-koerant te staan, is nie 'n maklike taak nie.
Gedurende die afgelope 10 jaar wat ek by Suid-Kaap Forum eers as joernalis en daarna as redakteur gewerk het, het baie water in die see geloop.
Daar was 'n menigte hoogtepunte, te veel om op te noem, maar ongelukkig ook laagtepunte. Goeie nuus en slegte nuus. Baie kritiek, soms opbouend, maar ook afbrekend.
Die Goue Oues-projek wat ek in 2014 begin het, in samewerking met my kollegas en die ondersteuning van die gemeenskap en besighede, het my baie na aan die hart gelê. Die vreugde en dikwels ongeloof in bejaardes se oë en op hul gesigte wanneer hulle 'n onverwagte geskenkpakkie op hul verjaarsdag van die koerant ontvang, was dikwels hartverskeurend.
Daar was soveel van hulle wie se families hulle net by 'n tehuis gaan aflaai, of wat bitter min besoek van familie ontvang het. Na vyf jaar en met die koms van die Covid-19-pandemie was dit egter nie meer moontlik om dit vol te hou nie.
As ek terugkyk oor die jare, weet ek in my hart dat ek my beste gegee het; vir die koerant, vir die gemeenskap. As 'n papeter uit die ou Transvaal (Noordwes-Provinsie) het die Suid-Kaap, maar veral die Hessequa-streek, op my gegroei. My kollegas het my familie geword en kennisse het vriende geword.
Dit is met groot heimwee dat ek hierdie provinsie gaan verlaat en na my geboorteplek moet terugkeer. Ek weet dat die paaie nie behoorlik onderhou word nie, dat Klerksdorp se munisipaliteit een van vele in die land is wat in die rooi is by Eskom en dat dienste daar iets is waarvan die inwoners net van droom.
Om daardie rede wil ek vra: waardeer wat julle het. Die paaie hier is nog rybaar met 'n gewone motor, wanneer jy 'n kraan oopmaak is daar water en al is beurtkrag aan die orde van die dag, is dit 'n nasionale probleem met 'n kragvoorsiener wat blykbaar self in die donkerte rondtas en nie weet hoe om dit op te los nie.
Ek gaan Suid-Kaap Forum, ons lesers en die gemeenskap mis. Ek gaan my kollegas van ons susterskoerante by Mossel Bay Advertiser, George Herald, Oudtshoorn Courant, Knysna-Plett en Graaff-Reinet mis. En dalk die meeste van alles, Vrydae wanneer die koerant nog in die nagtelike ure voor ons agterdeur afgelaai word.
Hugo Redelinghuys, wat vroeër vanjaar as senior joernalis by ons aangesluit het, gaan vanaf 1 Desember die leisels by my oorneem. Hy het gedurende sy loopbaan in die media-bedryf al vele toekennings losgeslaan, veral as sportjoernalis en -redakteur en is nie 'n groentjie nie.
Ek sluit af met die wyse woorde van Langston Hughes: "Hold fast to dreams, for if dreams die, life is a broken-winged bird that cannot fly."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'