Update
HEIDELBERG NUUS - Twee vermeende perlemoensmokkelaars is op Nuwejaarsdag met meer as een ton perlemoen gevang nadat hulle van 'n padblokkade buite dié dorp probeer vlug het.
Die perlemoen se straatwaarde is ongeveer R1,5 miljoen.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes, onderskeidelik 33 en 59 jaar oud, in 'n wit Ford Ranger opgemerk toe hulle net voor Heidelberg by die padblokkade omgedraai en in die rigting van Riversdal gejaag het.
"Die verdagtes is agternagesit en ongeveer 10 km buite die dorp het die bakkie die pad verlaat en die bosse ingejaag.
"Die verdagtes het probeer vlug, maar is nie ver van die bakkie ingehaal en gearresteer."
Pojie noem dat die 45 sakke perlemoen sowat 1 010 kg geweeg het.
Die verdagtes is op aanklag van handeldryf of besit van perlemoen aangekla.
Hulle het vlugtig in die hof op Swellendam verskyn.
Die saak is tot Maandag 22 Januarie vir borgtog op Heidelberg uitgestel. Hulle bly in aanhouding.
Meer as 'n ton perlemoen is in die bakkie gevind.
Die moontlikheid dat die verdagtes aan 'n sindikaat gekoppel kan wees, word ook deur die spesiale misdaadeenheid ondersoek.
Pojie het die C-skoflede geloof vir hul flink optrede.
Konst. Adri Buys, Peter Rossouw, Salomé Erasmus en Edward Pieterse spog by die sakke perlemoen waarop beslag gelê is.
Lees 'n verwante artikel: 2 Met perlemoen betrap
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'