STILBAAI NUUS - Boere in droogtegeteisterde gebiede het hoop net so veel soos reën nodig.
Dis hoe een van die predikante van die NG Kerk op dié kusdorp, ds. Francois Taljaard, hul kontak met die inwoners van Merweville opsom. Hulle het op versoek van die NG-sinode van Wes-Kaapland die gemeente 'aangeneem' om konkrete hulp en emosionele ondersteuning in die droogtetyd te verskaf.
Die eerste projek wat die gemeente van stapel gestuur het was bederfbokse wat aan 178 boervroue tydens 'n besoek van 10 tot 12 November uitgedeel is.
Daar is ook dadelik met fondsinsameling begin. Taljaard vertel hoe hulle verstom oor die vrygewigheid van die breë Stilbaai-gemeenskap, nie net kerklidmate nie, gestaan het. Na slegs drie weke is die bedrag van R100 000 reeds aan die kerkraad van Merweville oorbetaal. Die gemeente werk tans om Kersfeesbokse vir die kinders vol te maak. 'n Projek om individuele gesinne in die twee gemeentes met mekaar in aanraking te bring, het ook Sondag 17 November afgeskop. Taljaard benadruk dat hulle 'n langtermynverbintenis met dié gemeenskap in die Moordenaarskaroo begin het. Dit het sewe jaar laas werklik goed in die gebied gereën en dit sal langer as een seisoen neem om die veld werklik te laat herstel.
Enigiemand wat aan die projekte wil deelneem of 'n finansiële bydrae wil lewer kan Lydia Heyns in die kerkkantoor skakel by 028 754 1705.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'