ALBERTINIA NUUS - ’n Tragiese ongeluk op die N2-hoofweg naby die Gouritsmond-afrit het Dinsdagaand tot die dood van een persoon gelei nadat ’n onbekende voertuig onder ’n brandende vragmotor vasgekeer was.
Volgens Daniel Dippenaar, hoof van Hessequa brand- en reddingsdienste, het hul noodsentrum omstreeks 22:00 ’n oproep ontvang oor ’n vragmotor wat aan die brand was.
Toe nooddienste op die toneel opdaag, was die vragmotor reeds in vlamme gehul.
“Wat aanvanklik na ’n enkele voertuigvoorval gelyk het, het gou in ’n veel ernstiger situasie ontwikkel toe ontdek is dat daar ’n tweede voertuig onder die brandende vragmotor vasgekeer was,” het Dippenaar gesê.
Brandbestryders het onder uiters gevaarlike omstandighede hard gewerk om die vuur onder beheer te bring. Die N2 is onmiddellik in albei rigtings gesluit om reddings- en bluswerk te vergemaklik en verdere gevaar vir verkeer te voorkom.
Nadat die brand suksesvol geblus is, is die toneel aan die forensiese eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorgegee.
Die polisie het foto’s geneem en ’n voorlopige ondersoek van stapel gestuur. In samewerking met Metro Redding en die forensiese span, is die liggaam van een onbekende persoon uit die voertuig onder die vragmotor bevry.
“Hierdie insident was tegnies uitdagend en emosioneel swaar vir alle betrokkenes. Dit is te danke aan puik spanwerk tussen verskeie rolspelers dat die toneel professioneel en veilig hanteer is,” het Dippenaar bygevoeg.
Verskeie agentskappe was betrokke by die operasie, insluitend provinsiale verkeer, Metro EMS, SAPD, die Tuinroete-distrik se gesondheidsdepartement, Hessequa-verkeersdienste, en brand- en reddingsdienste.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bevestig nie en die ondersoek duur voort.
Die identiteit van die oorledene is op die stadium nog nie bekend nie. Die trokbestuurder het ligte beserings opgedoen.
Die pad is vanoggend om 04:30 weer oopgestel en ’n stop-en-ry-stelsel is in plek.
Hessequa-munisipaliteit het sy medelye met die familie en geliefdes van die oorledene betuig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’