HESSEQUA NUUS - Sestig kwalifiserende inwoners van wonings op Theronsville, Albertinia het Vrydag 13 April hul titelaktes van die uitvoerende burgemeester Grant Riddles en rdl Ivan Mangaliso ontvang.
Die munisipaliteit is tans in die proses om titelaktes aan geregistreerde huiseienaars binne die munisipale bedieningsgebied te oorhandig. Die projek het gedurende Maart vanjaar 'n aanvang geneem met die oorhandiging van 58 titelaktes aan eienaars van wonings op Melkhoutfontein.
Riddles het in sy boodskap gesê dat huiseienaarskap aan mense waardigheid en verantwoordelikheid verleen.
"Dit is party mense se grootste bate, wat verbeter moet word sodat dit in waarde kan groei. Huiseienaarskap maak verskeie deure vir eienaars oop, omdat hulle kollateraal het om byvoorbeeld finansies te bekom om hul kinders verder te laat studeer."
Titelaktes sal in die nabye toekoms aan huiseienaars op Riversdal, Heidelberg en Slangrivier oorhandig word.
Die inwoners het hul titelaktes onlangs ontvang. Foto's: Jeff Gibson, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'