ALBERTINIA NUUS - Toeriste wat van ou geboue en hul geskiedenis, of sommer net van 'n lekker fotogeleentheid by sulke geboue hou, moet St. Mark's Anglikaanse Kerk, Bergfontein in die Albertinia-distrik, Suid-Kaap - of dit wat oor is daarvan, besoek.
Die eertydse kerk, skool, huis en begraafplaas het in die nuwe millennium in onbruik geraak en word stadig deur Moeder Natuur teruggeneem.
Een gedeelte van die muur is tydens vloede in die vroeë jare 2000 verwoes.
Verskeie gemeenskapsleiers van die dorp het daar skoolgegaan en Sondagdienste bygewoon. Dit is bekend dat die sending van St. Mark’s begin het in 1884 op grond wat deur ’n mnr. Oosthuizen geskenk is. Die kerk is deur vader M. Anderson gebou.
Volgens inligting uit 'n boek van dr. Rudie Briel, Albertinia Honderd Jaar 1902-2002, staan 'n klipmuur op Bergfontein wat volgens oorlewering deur Masbiekers, slawe wat van Mosambiek gekom het, gepak is.
Die muur is deur vloede beskadig.
Bergfontein is ook bekend daarvoor dat dit een van die plekke is wat biskop Gray in die 19de eeu aangedoen het op sy roete na Grahamstad.
Vroeër is Paasfees op ’n besondere manier gevier. ’n Opstandingdiens is om 06:00 in die begraafplaas gehou en daarna het ’n gewone diens in die kerk gevolg.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'