Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Heerlike melktertresep deur 'n bekende en geliefde inwoner Ella Badenhorst, verskyn tans in 'n Amerikaanse kookboek - en die moontlikheid is nie uitgesluit dat dit selfs in die Withuis bedien kan word nie!
Die kookboek, Cook like a man is deur Fritz Brand geskryf en saamgestel. Sy pa, Vic noem dat Fritz 'n 'blog', naamlik Real men can cook gehad het wat 'n uitgewer in Amerika se oog gevang het.
"Hulle was baie beïndruk met sy werk en het hom sowat drie jaar gelede gevra om 'n resepteboek saam te stel wat op Amerikaanse mans gerig is," vertel hy.
Dit het Fritz onmiddellik aan sy kinderdae op Heidelberg laat verlang waar hy dikwels Ella se melktert, Anita Swart se souskluitjies en sy pa se beessertgereg kon geniet.
In sy boek noem hy: "It's really amazing how nostalgia and food intertwine to bring you a level of comfort and happiness that money simply cannot buy."
Ella is bekend vir haar smullekker eetgoed, gebak en pasteie. Hierdie smaaklike geure gaan so ver as die sewentiger jare terug toe sy 'n winkel op die dorp gehad het.
Sy het verskeie ander talente en het op 82-jarige ouderdom die viool en strykstok nader getrek om self te leer speel.
Op 85 sien sy selfs kans om die konsertina baas te raak, maar volgens Vic is melktert die ding waarvoor sy juis so bekend is.
Die boek stel enigiemand wat probeer kook, gerus om nie so geïntimideerd oor kosmaak te voel nie. Die skrywer moedig jou aan om te probeer, al maak jy foute.
Die boek is opgedra aan sy ma, Jessie, wat ongelukkig tydens die skryf daarvan oorlede is.
Fritz, die jongste van drie kinders is in 1981 gebore en het op dié dorpie grootgeword en skoolgegaan. Na skool het hy op sy rekenaartegnologie loopbaan gefokus en kookkuns was slegs 'n stokperdjie.
Vandag is hy 'n tegniese bestuurder van 'n maatskappy wat sagteware ontwikkel op Stellenbosch.
Lees 'n vorige artikel: Plaaslike melktertresep wen groot
ARTIKEL: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'