SWELLENDAM NUUS - Dit gons in die dorp nadat die plaaslike stasiekommissaris geskors is hangende 'n interne ondersoek na sy beweerde betrokkenheid by die plaaslike taxibedryf.
Die skorsing is glo reeds vroeër verlede maand in werking gestel.
Volgens inligting het die stasie-kommissaris, lt.kol. JJ Tiemie, aansoek gedoen om 'n lid van die Swellendam- en Bonnievale-taxivereniging te word.
Die aansoek is glo in sy vrou se naam ingedien.
Daar word beweer dat die betrokke taxi, werkers van 'n konstruksiemaatskappy by die nuwe Overberg-windplaasprojek net buite Swellendam vervoer.
Dit is wyd bekend dat die parlement se polisieportefeuljekomitee, en veral die voorsitter, Ian Cameron, by verskeie geleenthede daarop gewys het dat beamptes van verskeie polisiestasies en gespesialiseerde eenhede landwyd onwettig in die vervoerbedryf werksaam is.
Volgens Cameron word polisiebeamptes streng ingevolge wetgewing verbied om taxi's te besit of te bedryf om belangebotsings te voorkom.
Hy waarsku dat die polisie nie taxigeweld en afpersing doeltreffend kan bekamp terwyl lede 'n finansiële belang daarin het nie.
Cameron het 'n dringende beroep gedoen op die onmiddellike ontslag en strafregtelike vervolging van alle lede wat hulle aan dié praktyk skuldig maak.
Kol. André Traut, provinsiale kommunikasiebeampte, is vir kommentaar genader en het bevestig dat 'n beampte verbonde aan die Swellendam-polisie geskors is hangende die uitslag van 'n interne proses.
In belang van 'n behoorlike proses sal die polisie nie op hierdie stadium verdere besonderhede oor die saak bekendmaak nie.
"Die skorsing het gedurende Mei 2026 in werking getree en die saak geniet tans die nodige aandag van die polisiebestuur," het Traut gesê.
Traut het verder gesê dat die stasie intussen operasioneel bly onder waarnemende bestuursreëlings om die voortgesette lewering van polisiëringsdienste aan die gemeenskap te verseker.
"Die polisie wil die publiek verseker dat polisiëring by die Swellendam-polisie op geen wyse belemmer word nie en dat alle operasionele verantwoordelikhede soos normaal voortgaan.
"Prosesse is ook aan die gang om bestuurskapasiteit by die stasie te versterk waar nodig.
"Die polisie bly verbind tot die handhawing van stabiliteit, aanspreeklikheid en doeltreffende dienslewering by alle polisiestasies in die Wes-Kaap," het Traut afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’