RIVERSDAL NUUS - Elke San Iemand, Jan Iedereen en Almal Alleman wil nou meteens nóg ‘n supermark in die dorp hê! En hulle het blykbaar planne om dit te verwesentlik - wat nie eens aan die ontwikkelaar en/of die onafhanklike oorsigtribunaal bekend is nie...
Dit gons op sosiale media en in die dorp se WhatsApp-groepies.
Dorpenaars het tot 31 Julie vanjaar die geleentheid gehad om ‘n petisie te steun ter wille van die vestiging van ‘n Shoprite-winkel in die dorp.
Uit die sowat 12 000 geregistreerde stemgeregtige inwoners het nagenoeg 2 000 mense hul stem deur middel van ‘n handtekening laat hoor: hulle wil nie meer deur monopolieë en uitlander-spasawinkeltjies bedreig word nie.
Louis Jones, die perseeleienaar en ontwikkelaar, waardeer álmal se uitreik, maar sê: “Professionele bekwames - bestaande uit grondgebruikprokureurs, verkeersingenieurs en stadbeplanners - het die appèl-aansoek geformuleer. Dit moet nou, volgens munisipale regulasies, oorweeg word. Ons kan ongelukkig niks doen om die proses te bespoedig nie. Ons kan slegs vertrou dat die beswaarmakers téén dié voorgestelde ontwikkeling nie ons voorlegging belemmer nie. Daar lê ‘n kritiese wagtyd tot welslae voor.”
Hoe werk dit dan? Die belangrikste feit is: daar is is geen wetlike tydperk aan die uitkoms van ‘n appèlaansoek gekoppel nie.
Dit blyk intussen dat ligging en parkering nie die grootste uitdaging is nie; eerder die aansoek om die hersonering (wat aan verskeie munispale regulasies moet voldoen) van die voormalige Handelshuis-gebou vir die vestiging van ‘n “Shoprite-Mini."
Danette Jones, ‘n stadsbeplanner by NuPlan Africa, met takke in Somerset-Wes en Stilbaai, verduidelik die appèlverloop - soos deur die munisipale verordening op grondgebruikbeplanning vereis word.
- Die appèl is op 31 Julie 2024 by die munisipale bestuurder ingedien.* ’n Afskrif van die appèl is ook gestuur aan die mense wat op die hersoneringaansoek beswaar gemaak het. Daar was slegs drie besware.
Die proses moes só verloop:
- Volgens Artikel 80(6) kan hierdie beswaarmakers kommentaar lewer op die appèl binne 21 dae; dus tot 21 Augustus. Indien daar geen kommentaar gelewer word nie, kan dit die aansoek steun. Indien daar wel besware geopper word, word die beslissing bemoeilik.
- Daarna tree Artikel 80(12)(a) in werking; naamlik dat die gemagtigde persoon (vermoedelik die munisipale beplanner) binne 30 dae die evaluasie-verslag aan die munisipale bestuurder (Albert de Klerk) moet verskaf.
- En dan tree Artikel 80(13) in. Dit behels dat die munisipale bestuurder binne 14 dae die evaluasie-verslag na die appèl owerheid (die burgemeester Grant Riddles) moet verwys, waarna hy die finale besluit moet neem.
*Teen Suid-Kaap Forum se spertyd, Woensdagmiddag 23 Augustus, kon ons nie vasstel wat die besluit was nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’