HEIDELBERG NUUS - 'n Belowende eerstejaar-verplegingstudent se loopbaan is wreed kortgeknip.
Nicolin Davids (26) se liggaam is omstreeks 01:30 Sondag 27 Oktober op 'n oop veld langs die stadion, waar hy die vorige dag aan 'n sportdag deelgeneem het, gevind.
Hy het ernstige hoofbeserings opgedoen.
Die liggaam is deur 'n man wat leë bottels bymekaar gemaak het, gevind. Die persoon het die aandag van omstanders getrek wat die polisie ontbied het. Die toneel is afgesper en die liggaam is deur die forensiese patologiese-afdeling verwyder.
Davids se ouma Nicoleen Davids, by wie hy grootgeword en gewoon het, het Sondagmiddag hartseer vertel dat hy Maandag 28 Oktober sy laaste vraestel van die jaar sou skryf. "Hy het so uitgesien om die volgende twee maande by die huis te wees. Hy was my alles. Ek het nie eens so stukkend gevoel na my eie seun se dood nie."
Haar seun Raymond, 'n polisieman, het drie jaar gelede op die N2 net buite die dorp verongeluk. Sy het baie vrae oor haar kleinseun se dood, soos hoekom hy kaalvoet op die toneel gevind is.
Davids was sedert 2014 'n vakleerling by die klinieke op Heidelberg en Slangrivier. Sr. Elize Esau, 'n verpleegsuster by die daghospitaal, het nie woorde gehad om haar skok en hartseer te beskryf nie. "Ek verstaan nie. Hy was nie net my kollega nie, hy was my kind, 'n tjommie."
Volgens haar was sy baie trots op hom dat hy so goed gevaar het. "Hy was so gemotiveer om vir 'n dokter te gaan leer omdat hy reeds as eerstejaarstudent so baie geweet het. Sy antwoord was altyd: 'Ons kyk maar'. Min het ek geweet dat ek die tyding sou kry dat hy nie meer met ons is nie. Ek gaan hom mis."
Buiten sy ouma laat Davids ook sy ma Esmeralda, drie broers en drie susters agter. Die begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
Volgens ao. Alroy Windvogel, polisiewoordvoerder, word 'n klag van strafbare manslag ondersoek. Die lykskouing sal bepaal wat Davids se dood veroorsaak het. Intussen is op die oorledene se tekkies beslag gelê.
Windvogel het die gemeenskap versoek om na vore te kom met inligting indien hulle iets weet wat met die ondersoek kan help. Kontak die polisiekantoor by 028 722 1910 of Windvogel by 082 522 1245.
Die liggaam word deur die forensiese patologie-afdeling verwyder. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'