Update
HESSEQUA NUUS - AfriForum het onlangs sy jaarlikse vullisterrein-ouditverslag bekendgestel na die organisasie vanjaar vullisterreine geoudit het in die dorpe waar AfriForum-takke gevestig is.
Kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur moet 'n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
By navraag het Suid-Kaap Forum bevind dat die streek se stortingsterreine wel daaraan voldoen.
Die streek het agt stortingsterreine waarvoor geldige permitte deur die departement van omgewingsake uitgereik is. Steynskloof op Riversdal en Droëkloof op Heidelberg mag bourommel, besigheids- en huishoudelike vullis hanteer. Vanaf 1 Julie is die twee terreine, asook Melkhoutfontein, Maandae tot Vrydae vanaf 09:00 tot 13:00 en 14:00 tot 18:00, en Saterdae vanaf 08:00 tot 14:00 oop. Die terreine is na-ure, Sondae en op openbare vakansiedae gesluit.
By Albertinia, Gouritsmond, Melkhoutfontein, Slangrivier, Witsand en Jongensfontein se terreine mag slegs tuinvullis en bourommel gestort word. Albertinia se stortingsterrein is slegs Maandae, Woensdae en Vrydae oop. Op Jongensfontein is 'n gekontroleerde oop-en-toesluitstelsel in plek.
Mediese afval word deur Riversdal-hospitaal en die klinieke gedoen.
Geen mediese en chemiese afval of gevaarhoudende stowwe soos asbes mag op enige van die terreine gestort word nie. Die aangepaste tye is juis ingestel ter wille van beter beheer oor die soorte vaste afval wat afgelaai word.
Geen gemengde vragte van bourommel en tuinvullis word aanvaar nie. Slegs sand, stene, klippe, betonmengsels en erkende bourommel is aanvaarbaar. Die vrag moet ook nie plastiek, karton, papier, sementsakke of huishoudelike afval bevat nie. Masjienoperateurs op die terreine pers die vullis saam om te voorkom dat sekere goed rondwaai.
Buiten Slangrivier, Witsand en Jongensfontein het die terreine gedurende normale werksure voltydse hekwagte wat ook moet toesien dat slegs die korrekte afval gestort word. Hulle moet ook aanwys waar die verskillende soorte vullis gestort word. Tydens die koerant se besoek aan Steynskloof was daar geen teken van 'n hekwag nie en by navraag het dit geblyk dat hy moontlik op daardie tydstip vir iemand gaan wys het waar om sekere soorte vullis af te laai.
Lees 'n vorige artikel hier: Stortingsterreine voldoen aan vereistes.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'