RIVERSDAL NUUS - Die storm wat woed rondom die kop van Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa, oor beweerde bedrog wil maar net nie gaan lê nie.
Verskeie bewerings dat hy die gedragskode vir raadslede oortree het, onder andere bedrog met die Melkhoutfontein-behuisingskema waar hy 'n inwoner glo aangeraai het om te lieg, doen die ronde.
Die speaker van Hessequa, Andrew Stroebel, het sy voorlopige ondersoek na die bewerings wat teen Riddles gemaak word, afgehandel en na die munisipale raad verwys vir oorweging.
Die raad het Woensdag 24 Mei eenparig besluit dat die aangeleentheid ingevolge Item 16 (1), Skedule 7 van die Gedragskode vir Raadslede vir verdere ondersoek na 'n tugkomitee verwys moet word.
Daar sal al die betrokke partye kans kry om hul sake te stel waarna die tugkomitee 'n bevinding sal maak wat weer na die raad verwys sal word.
Indien daar 'n skuldigbevinding is, gaan die raad dit bestudeer en besluit of hulle saamstem daarmee waarna hulle die besluit formeel maak. Die raad kan in geval van 'n skuldigbevinding wel die sanksie wat hulle aanbeveel debatteer en dit verander.
Daarna sal die kantoor van die speaker die besluit na Anton Bredell, minister van plaaslike regering, aanstuur vir 'n finale besluit. Bredell is die appèlliggaam in die proses so indien die burgemeester voel hy wil appelleer teen die besluit moet hy dit by die minister doen.
Met al die gerugte in omloop het Riddles 'n verklaring uitgereik waarin hy onder meer sê dat hy sy volle samewerking gee aan die kantoor van die speaker met die interne ondersoek.
"Ek wil die gemeenskap gerusstel dat daar slegs 'n saak gemaak is by die Valke wat enige inwoner se reg is, maar dat daar nog geensins 'n besluit is om moontlik te vervolg nie. Soos enige owerheid moet daar eers gekyk word of daar meriete in die aangeleentheid is.
"Ek verwelkom enige interne en eksterne navrae aangesien ek weet wat die feite is en waarheid sal verseker seëvier. Die narratief daarbuite word valslik geskep dat ek finansiële voordele of gunswerwing ontvang het, wat absoluut onwaar is.
"Verder word daar beweer dat ek 'n perseel aan 'n behuisingskontrakteur teen finansiële vergoeding verhuur het wat so vals is soos 'n R30-noot. En hiermee volstaan ek. Hiermee bevestig ek ook dat ek geen kommersiële gronde of eiendom besit om te kon verhuur nie."
(Lees ook die kommentaar van Cameron Dugmore, Wes-Kaapse ANC-leier, op bl. 3 van vandag se Suid-Kaap Forum).
LEES MEER: ANC eis Burgemeester se kop
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’