STILBAAI NUUS - Die Stilbaai VLV se kuns- en kultuur-portefeulje, onder leiding van Bea Loubser, was verantwoordelik vir die vereniging se Augustus-byeenkoms, waar die fokus op die medisinale waarde van kruie en ander plante geval het.
Duhne Liebenberg van Namo het die gehoor op 'n interessante ontdekkingsreis geneem en hulle anders na plante in die natuur laat kyk.
'n Besonder interessante aspek van haar aanbieding was die medisinale waarde van nie net bekende kruie nie, maar ook sekere onkruid en wilde plante wat dikwels as nutteloos beskou word.
Daar is 'n ellelange lys van moontlike gebruike, maar 'n paar minder bekende feite het veral die aandag getrek.
Baie mense gebruik roosmaryn in kos, maar die kruie is reeds in ouma se tyd vir maagprobleme gebruik.
Nuwe navorsing ondersoek ook die moontlike voordele daarvan vir geheue.
Kappertjieblomme en -blare kan in slaaie gebruik word en bevat vitamiene C.
Die spekboom is nie net waardevol vir die natuur nie; sy blaartjies is ook eetbaar, bevat verskeie voedingstowwe en help met cholesterol.
Brandnetel is veel meer as net 'n lastige onkruid.
Wanneer dit behoorlik voorberei word, kan dit as 'n voedsame plant gebruik word.
Dit is tradisioneel onder meer vir gewrigsprobleme, lae ystervlakke en spysvertering gebruik.
Vinkel se sade en blare word tradisioneel vir spysverteringsprobleme en 'n opgeblase gevoel ná ete gebruik.
Olyfblare word weer tradisioneel verbind met ondersteuning tydens verkoue en griep, asook bloedsirkulasie en gewrigsgesondheid.
Die porseleinplant (Portulaca oleracea) wat as 'n onkruid beskou word en selfs tussen plaveisel groei, is eetbaar en bevat onder meer omega-3-vetsure en vitamiene.
Die kankerbossie, wat wild groei, is nog 'n plant met 'n lang geskiedenis van tradisionele gebruike.
Perdeblom (dandelion) word eweneens dikwels as 'n onkruid beskou, maar die plant is eetbaar en word tradisioneel vir onder meer spysvertering en lewergesondheid gebruik.
Hierdie is maar 'n paar voorbeelde van wat Liebenberg aangebied het.
Belangstellendes kan Namo besoek, waar sy haar uitgebreide kennis van plante en hul tradisionele gebruike verder kan deel.
Die maandelikse lootjietrekking het ook 'n interessante oomblik opgelewer.
'n Bottel likeur, steeds met die modder van die Breederivier se onlangse vloed daarop, was op die spel.
Dit het die teenwoordiges onwillekeurig herinner aan die enorme skade wat die vloed in die gebied veroorsaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’