STILBAAI NUUS - Wat Maandag 3 Maart vir vier vissermanne van Stilbaai 'n heerlike dag op see moes wees het amper in 'n tragedie ontaard toe hulle boot in digte mis by Lappiesbaai omgeslaan het.
Die vier kon gelukkig aan die omgeslane boot vasklou, terwyl dit stadig in die rigting van die strand gedryf het.
Nadat hulle heelwat seewater gesluk het, het hulle naby genoeg aan die strand gekom om te kon staan.
Een van hulle, Leon du Randt, het gelukkig nie sy selfoon verloor nie en kon sy vrou, Miekie, bel wat onmiddellik die NSRI gekontak het.
Stasie 31 se manne en vroue was gou op die toneel en het die boot kant toe getrek waar hulle hom kon omkeer met behulp van die publiek.
Slegs een van die vissermanne het 'n hou teen die kop gekry, maar heelwat van hulle besittings is see in.
Indien enigiemand visgereedskap ensovoorts kry op Lappiesbaai strand sal dit waardeer word indien die goedere by die polisiestasie ingehandig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’