Update
STILBAAI NUUS - Die geslagsgeweld-lessenaar is 'n inisiatief wat by alle polisiestasies geskep is om nie net slagoffers van geslagsgeweld nie, maar alle individue van inligting rakende geslagsgeweld te voorsien.
Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vrouens en kinders het Donderdagaand, 25 November op Stilbaai met 'n gebedstap in Melkhoutfontein begin deur verskeie groepe, lede van die gemeenskap en ook geestelike leiers van verskillende kerke waartydens geweld teen vroue en kinders sterk aangespreek is.
Stilbaai-polisie, in samewerking met 'n bekende plaaslike kunstenaar, Sonja Margerison en haar span het die inisiatief geneem om hierdie Geslagsgeweld-lessenaar na die gemeenskap te neem deur al die inligting van organisasies wat teen geweld teen vroue en kinders veg, op die muur van die sportgronde in die vorm van pragtige muurskilderye te verf. Dit beteken dat die inligting 24\7 beskikbaar is.
Toestemming en ondersteuning deur Hessequa-munisipaliteit, asook skenkings deur die gemeenskap het Sonja en haar span se taak baie vergemaklik om hierdie sieraad te skep.
"Ons bedank die geestelike leiers, jeuglessenaar en Melkhoutfontein-ondersteuningsgroep vir hulle onbaatsugtige werk in die gemeenskap om hierdie euwel uit te roei," het die sameroeper, sersant Christiana Lewaks van Stilbaai-polisie gesê.
Inligting van organisasies wat teen geweld teen vroue en kinders veg, is op die muur van die sportgronde in die vorm van pragtige muurskilderye geverf.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'