STILBAAI NUUS - Die bejaardes in Badisa tehuise in die Noord-Kaap benodig dringend toiletware en Huis Stilbaai het besluit om in te gryp.
Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai noem dit: "Sending blessings from our house to yours."
Dit is vakansie en Huis Stilbaai het besluit hulle wil teruggee na al die liefde en omgee wat hulle uit soveel oorde ontvang en hierdie projek is hulle klein bydrae.
Woensdag 20 Desember het twee barmhartige samaritane 60 spesiaal opgemaakte linnesakkies met toiletware opgelaai en hulle neem dit na die tehuise in Fraserburg, Williston en Loeriesfontein.
Hierdie toiletware is geskenk deur inwoners van Huis Stilbaai, die gemeenskap en ook vakansiegangers.
By ander tehuise is die nood egter net so hoog en die projek beoog om pakkies op te maak vir die tehuise in Sutherland en Steinkopf.
Skenkings kan in Stilbaai afgegee word by Huis Stilbaai in Perlemoenlaan se ontvangs asook in Jongensfontein by Danie en Welma Janse van Rensburg in Voëlkliplaan 26.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’